Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

SIRKEL:                                    Tygerberg

TAK:                                        Kuilsrivier

BERIGGEWER:                        Mariëtte Krige

DATUM:                                  27 November 2025

KUILSRIVIER VERJAAR

95 JAAR, DANKBAAR, VROULIK en VROLIK

VLV Kuilsrivier, deel van Sirkel Tygerberg, het hierdie jaar ‘n wonderlike geleentheid aangebied, om die 95 jaar van VLV-wees, in alle opsigte, te vier. Op Saterdag 13 September 2025 het die dames bymekaar gekom om die 95ste bestaansjaar van die tak te vier.

Dames, mooi aangetrek, spesiaal vir die okkasie, het in ‘n versierde saal, met lieflik gedekte tafels, aangesit om die viering meer spesiaal te maak. Daar was ook ‘n koek, versier om by die tema “Leef in Kleur”, te pas. Alles afgerond tot die fynste besonderhede.

Die dag is gevul met ‘n program wat alles wat spesiaal, lekker en mooi insluit.

Skriflesing en verwelkoming is deur Martin Oliver gedoen en daarna het die kersseremonie plaasgevind. Tannie Martie Jordaan, 95 jaar jonk en ere lid, het die kers vir ons aangesteek.

Elke sameroeper, die sekretaresse, tesourier en natuurlik die voorsitter het aangetrek volgens hulle portefeulje en op ‘n toepaslike lied aan die dames ‘n kort en vinnige demonstrasie gelewer wat die portefeulje behels. Onder groot toejuiging is die vertoning afgesluit met die kaptein (voorsitter) wat die span van die verhoog af lei.

Elmine Möller, Voorsitter, het oor die ontstaan van VLV Kuilsrivier vertel. Na die afstigting van Sirkel Kaapstad, was Kuilsrivier die eerste tak wat ‘n konferensie in die nuwe Sirkel Tygerberg aangebied het.

Die koeksny seremonie is deur Suretha Joubert, oud voorsitter en nou ere lid, waargeneem.

Daar was vir elke persoon teenwoordig, ‘n kleurvol versierde kolwyntjie en heerlike verversings. Die koek is uitgeloot en die wenner, het beslis ‘n baie lekker en kleurvolle koek huis toe geneem.

Na die kort pouse, het Elmine Möller met Suretha Joubert en Marlene Lotz gesels, hulle is twee van die oudste lede in die tak en het ons vertel wat en hoe die dames in die vroeë tye van die tak gewerk en gewoeker het. Lekker onthou en lekker lag!

Ons het ook geluister na ‘n storie van hoop. ‘n Jong dame, Monique Pieterse, het ons vertel van haar en haar familie se ontberinge tydens ‘n motorkaping en aanhouding. Almal het trane in hulle oë gehad, harte is aangeraak op ‘n spesiale manier. Sy het egter beklemtoon, daar is altyd Hoop!

Kristie Herbst het ons laat giggel en sommer lekker laat lag met haar voorlesings, spesiaal vir Afrikaans 100. Soos die goeie aktrise wat sy nog altyd is, het sy almal se aandag op haar gevestig gehou.

Elmine Möller het verder die betrokkenheid van die VLV in ons gemeenskap verduidelik. Die VLV en haar lede is betrokke op verskeie plekke waar hulp en bystand nodig is en hou die VLV naam hoog, met trots.

Marieta Oliver het na elke item ‘n lied gesing. Met verskillende hoede het sy verskillende temas toegelig.

Sy het ook ‘n lied gesing wat deur Chat GPT geskryf is vir die VLV, met die tema Kleur Jou Lewe.

Kleur Jou Lewe

Vers 1

Ons het eens in swart begin

Stil gewandel sonder sin

Tot ons rooi gevoel het brand

Liefde wat ons siel omvou

Vers 2

Blou was al die drome klein

Stil soos die reën teen die vensterruit

Geel was vreugde op ‘n dag

Toe ons weer kon hoop en lag

Koor:

Want ons dra die kleure van ons hart

Van donker nag tot die sonlig skyn

Elke woord, elke lag

Skilder ons in ware krag

In geel en pers, in blou en goud

Dis hoe jy ons storie sal onthou

Vers 3

Kleure loop nie net op doek

Hul leef in elke soek

In elke traan, in elke woord

Iets wat nog gehoor wil word

Vers 4

Ons dra die kleure van ons hart

Selfs as alles uitmekaar wil val

Ons sal weer die reënboog vind

Wanneer ons bly glo soos ‘n kind

Koor: Herhaal

Woorde spesiaal geskryf vir VLV se 95ste verjaarsdag deur Chat GPT.

Ons tema van die jaar is “Kleur jou lewe”. Woorde finaal verwerk deur Marieta Olivier

Melodie getoonset deur Marieta Oliver

Die verrigtinge is afgesluit met die sing van die VLV Lekkersing Lied en bedankings.