Skip to main content

Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Klein-Brakrivier

SWD

12 Mei 2026

Web koördineerder          Lydie Terblanche

Berigskrywer             Ina Louw

Hierdie jaar het met ‘n knal weggespring. Nou reeds koud met winter op die voorstoep, bly die tak besig om ysbere weg te hou.

Die plaaslike SAPD het ons genader vir hulp in meer as een opsig en ons het dadelik ingespring en betrokke geraak. Die eerste projek is om toebroodjies aan die tuinwerkers op Saterdae te verskaf. Die dames het dadelik ‘n rooster opgestel en broodjies word vir die res van die jaar, een keer per maand by die stasie afgelewer.

Die ander versoek was om die vroue in diens van die SAPD een maal per maand te bemagtig. Die oogmerk is om vaardighede te deel waarmee die vroue ‘n stokperdjie kan bedryf en selfs moontlik ‘n ekstra inkomste kan skep. Die eerste geleentheid het beoog om die dames emosioneel en professioneel te bemagtig. Ina Louw was die fasiliteerder en die tema was “Ek doen my deel”.

Dit was in gesprek-formaat wat onder andere die volgende ingesluit het:

Hoe groei ek professioneel?

Hoe beïnvloed breinprofiele spanwerk...

Verdere sessies vir vaardigheidsoordrag word vir die res van die jaar beplan.

Ons tak het ‘n groot linne skenking ontvang en dit word goed benut. Die linne was te koop aangevied, vir taklede en daarna aan gaste. Daar is ook lakentjies vir die babas by Mosselbaai Hospitaal gemaak. Tans is taklede besig om ‘n verskeidenheid sakke te vervaardig: inkopiesakke, skoensakke, wasgoedsakke en meer. Dit word geverf, borduur, geknoop en doop en allerlei estetiese ingrepe om die wit linne mooi te maak vir verkope.

Die linneprojek het aanleiding tot ‘n silkscreen slypskool gegee en die dames het dié nuwe vaardigheid met oop arms verwelkom. Retha Nagel was die fasiliteerder. Daar word ook ‘n tak ‘Van Tuin tot Tafel’ tafeldoek gemaak.

Die Nasionale Openbare Tuindag takuitstappie deur Ina gereël, kon ongelukkig nie realiseer nie. Ons area het ‘n periode van vreeslike slegte weer beleef.

Wat wel gerealiseer het was ‘n heerlike cupcake-versier-werkwinkel wat deur ons plaaslike chefskool aangebied is. Klein-Brakrivier het by Blanco aangesluit vir hierdie heerlike leerskool.

Ons tak se deurlopende projek – die insameling van proppies en broodknippes vir die Sweetheart Foundation – gaan steeds voort. Die herwinde plastiek word vir die vervaardiging van gespesialiseerde rolstoele aangewend. Murna hanteer tans hierdie projek vir ons.