Skip to main content

Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Fossiele by die VLV tak van St Helenabaai! Kan nie wees nie!

Sirkel: Weskus

Tak: St Helenabaai

Portefeulje: Opvoeding

Beriggewer: Wilna Marx

Fotograaf: Mariette Ackerman

Datum: 12 Mei 2026

Uitnodiging

Wat is nou lekkerder as om te leer oor dinge wat baie ouer as jy is? Dit is presies wat ons vandag doen! Wat ‘n wonderlike voorreg dat een van ons eie VLV lede, nl. Ronél Maré en haar man Stefan vandag met ons gesels oor die Weskus Fossielpark, hier op ons voorstoep in die Weskus.

Die Fossielpark se ingang

Die Fossielpark is ‘n omgewing van paleontologiese en argeologiese belang. Dit vorm deel van die “Cradle of Human Culture Route” wat die kusgebied se skulpiehope en die grotte waar die eerste mense in ons omgewing gebly het insluit. Bekende plekke sluit in Elandsbaai, St Helenabaai, Paternoster, Blombos en Pelican Point.

Die Weskus Fossielpark het sy ontstaan te danke aan veranderende seevlakke wat ‘n ongelooflike verskeidenheid van diere se bene bewaar het as fossiele. Dit is een van baie min plekke op aarde waar fossiele in sulke uitstekende toestand gevind is.

Daar is fossiele van olifante, die spesie giraf, o.a. die kameelperd, roofdiere, bokke, molle, seediere voëls en nog baie meer.

Fossiele van diere wat daar te sien is.

Die fossielpark was op rand van rivier geleë en toe daar vloede was het diere afgespoel tot by park. Daarom is die diere baie deurmekaar in die fossielpark. Daar is onder andere ook seediere gevind.

Van die uitgrawings by die fossielpark.

Die fossielpark bied ‘n verrykingsprogram aan vir skole wat aansluit by die vakke, lewenswetenskappe en Geografie. Leerders van verskeie skole besoek die fossielpark. Veral Graad 1 en 12 leerders.

Leerders besoek die uitstalling in die museum.

Nie net het ons geluister nie, maar ook heerlike aktiwiteite gedoen. Met die eerste aktiwiteit het die dames vyf kleure klei ontvang waarmee ons die aarde gebou het. Van die heel binneste laag tot die buitelaag.

Die aarde-aktiwiteit

Die tweede aktiwiteit bou ons ‘n stratigrafie model. Stratigrafie is die vertakking van geologie wat rotslae (strata) en gelaagdheid (stratifikasie) bestudeer. Dit ontleed hoofsaaklik sedimentêre en vulkaniese rotse om die chronologiese volgorde van die Aarde se geskiedenis, antieke omgewings en die prosesse wat die planeet gevorm het, te verstaan.

Stratigrafie model

Die derde aktiwiteit het aardverwarming tot in ons baai gebring. Die seevlak se invloed op St Helenabaai se kuslyn is met ‘n praktiese inkleuraktiwiteit gedoen. Ons kon duidelik sien wat sou gebeur as die see met 10 meter styg. Die vierde en laaste aktiwiteit waaraan die dames deelgeneem het, was deur die klein beentjies te sorteer, wat uit ‘n roofvoël se braakbal gehaal is. Daardeur het ons bepaal wat ‘n roofvoël die dag geëet het.  Soos wafferse argeoloë het ons met ons ‘tweezers’ die beentjies gesorteer.

Die bakkie met beentjies en blaai waarop ons sorteer het.

Soos met elke vergadering hierdie jaar, het ons weer ‘n mini-kompetisie geloods. Kalligrafie was die aktiwiteit, en die dames moes die sin: “Hier by ons VLV St Helenabaai-tak lê ons krag in spanwerk.”

Engela van Heerden (regs), sameroepster van die Opvoeding en Kultuur studierigting bedank René en Stefan(links en middel) vir hulle insiggewende praatjie en die heerlike aktiwiteite.

Pragtige tafels, heerlike geregte en vrolike lede maak die oggend ‘n heerlike sukses.