Skip to main content

Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Bredasdorp – Bye, Kompos, Gesonde kos en Marktafels

Sirkel: Overberg

Tak: Bredasdorp

Portefeulje: Landbou-en Tuinbou

Saamroeper: Hannelie Raath

Beriggewer: Letty-Ann Möller

Datum van vergadering: 13 Mei 2026

Inleidend tot die Landbou-en Tuinbouvergadering gehou op 13 Mei 2026 het Ora Laubscher die gehoor verras met ‘n agtergrondstorie oor die sendingkerkie wat later jare omskep is in die AGS kerksaal op Bredasdorp – die saal waar die tak vergader het.

Ora Laubscher en die sendingkerkie toe en nou.

Daarna het Danie Möller die gehoor geboei met feite oor die koningin by en byekolonies se sosiale gedrag. Sy opmerking,” … dat wanneer ‘n by van moegheid op die grond val, die ander werkers dikwels ‘n druppel nektar in haar mond sit om haar by te kry sodat sy kan aanhou werk”, het die gehoor lekker laat lag.

Hy het uitgebrei oor hoe verskillende soorte heuning in dieselfde byekorf beland, hoe bye afswerm, die kort leeftyd van ‘n by (42 dae), oor produkte soos royal jellie en propolis wat bye produseer en die medisinale waarde daarvan. Die dames is ook attent gemaak op die feit dat rou heuning nie by hoër temperatuur as 40 grade Celsius verhit moet word nie want dan verloor dit van sy voedingswaarde. (Smelt jou versuikerde heuning in louwarm water – beslis nie in ‘n mikrogolfoond nie). Let ook daarop dat babas se spysvertering nie rou heuning kan verwerk nie.

Danie Möller by sy bye.

Die derde spreker, Etienne Kriel, het ‘n kwekery op Napier en het gesels oor die resep om kompos te maak. “Kombuisafval hoort nie in kompos nie… gooi dit in jou wurmplaas.”

“Ek sit ‘n lagie kompos op my grond neer en dan, in die ideale wêreld, sit ek ‘n lagie deklaag oor dit. Kompos kan seker ’n deklaag wees maar as ons praat van ‘mulch’ bedoel ons nie eintlik kompos nie. Ja strooi, versnipperde blare, dennenaalde (dit maak nie jou grond suurder nie dit belowe ek julle) – wat ook al vir jou werk.

Maar die heel beste deklaag metode om te gebruik is om ‘n grondbedekker daar te plant want waar ‘n grondbedekker leef doen hy baie van hierdie reaksies wat kompos doen. Hy verskaf ‘n habitat mikrokrobes. Hy skei suikers af deur sy wortels. Hy groei en soos hy groei verskaf hy nuwe organiese materiaal wat doodgaan en nuwe grond vorm. ’n Lewendige ‘mulch’ is altyd beter as ‘n dooie een.”

Etienne Kriel maak sy eie kompos

Die vergadering is afgesluit met tee, tuisgebakte soetgoed en verseëlde bakkies hoendernoedelslaai. Om elke bakkie is ‘n lint met ‘n spekboomtakkie gedraai. Dames kon na willekeur plante, gebottelde produkte, tuisgebak en amigurumi speelgoed koop by die marktafels in die saal.