Klein-Brakrivier
SWD
20 April 2026
Web koördineerder Lydie Terblanche
Berigskrywer Ina Louw
Die muse loop los rond in Kleinbrak
Die Vrolike Vieringe groep het Haikudag laat vier in die Klein-Brakrivier se VLV-tak. Die Haiku is soos volg deur Ina aangekondig en verduidelik:
Op 17 April is dit Haikudag. ‘n Haiku is ‘n Japanese gedig in 3 reëls, maar met baie beperkte lettergrepe. Reël een het sewe lettergrepe, reël twee net vyf en reël drie weer sewe. Daar is nie noodwendig rym ter sprake nie. Die doel is om jou boodskap so beknop as moontlik te deel. Hier is ‘n voorbeeld oor Herfs.
Blare val in hope neer,
die wind begin sny.
Wolklere word uitgehaal. En een oor PJs (Ons het Pajamadag ook gevier)
Sag, snoesig en in ligpers,
verwag ek my droom.
Gereed vir slaap sonder skroom.
Die instruksies was ongelukkig verkeerd, want ek het dit verkeerd onthou en nie nagegaan nie. Dit moet wees 5-7-5 vir die lettergrepe. Gelukkig is die vroue van Kleinbrak baie wakker, en is die fout herstel. Die tweede advertensie het so geklink:
Vrydag is Haikudag. ‘n Haiku is ‘n baie kort gedig, sonder rym, in drie reëls met 5,7,5 lettergrepe in die onderskeie reëls, bv.
Sy lang tong skiet uit,
die vlieg word onkant gevang,
kouend verdwyn hy. (Kan jy raai wat dit is?)
Dit was ‘n verkleurmannetjie, maar almal was so besig om te werk aan hulle Haikus, dat niemand geraai het nie.
Murna sê op pajamadag:
Flenters maanlig
Pajamas soos sagte wolk
Slaap gly rustig in.
Ansie haal een aan en is eerste op die dag om te deel, naamlik om 06:59:
Veerlig dwarrel herfs
Van kil takke los en broei
Nog ʼn lente uit (bron onbekend)
Die seisoene was ‘n gewilde onderwerp en ‘n paar Haikus handel daaroor.
Murna s’n oor Winter:
Koel sonnetjie laat
Koffie stoom Beskuit my keuse
Winter Wink
Ina skryf oor Herfs:
Huppelend en lig
dartel blare op my stoep.
Roeskleurig getooi.
Marileze haal hierdie een aan, in meertalige formaat:

Jenny besing die sonsopkoms:
Dagbreek sonsopkoms
Kaleidoskoop rooi pienk blou
Koffie en stilte.
Retha het ook dagbreek in gedagte en voer aan:
Dou op die gras En ‘n haan se kraai Skuif nag na dag.
Lynette het beslis hongerpyne en sy skryf oor broodbak:
Oond se warm sug
Brood rys stadig, geurig bruin
Tuis se hart klop hier.
Deville het besluit sy gaan nie haar energie mors met formaat nie. Sy deel die volgende:
Wielie wielie walie aap val van balie.
Dié vrygeestigheid het Rosemarie aangespoor om haar bydra te maak:
Hier kierts daar kierts woeps in die hoekie.
Ina se afsluitboodskap was:
Nederig dink ek
aan voorregte onverdiend
Roem kom my nie toe.