Indrukke van die SWD Konferensie deur ‘n nuweling
Klein-Brakrivier
SWD
11 Maart 2025
Web koördineerder Lydie Terblanche
Berigskrywer Ina Louw
Ek was onmiddellik aangenaam verras by my aankoms. Daar was vriendelike dames wat verduidelik het hoe die registrasieproses moet verloop. Die pragtige mosaïek verwelkomingsbord was kunstig geplaas.

Die oggendkoffie was keurig voorberei en mens kon die stof uit jou keel kry.

Ek het gou onder die indruk gekom van die diepe tradisies wat hier aangetref word. Al die takke se vaandels wat voor uitgestal is, het van trots getuig. (foto)

Netso het die kerse wat deur die loop van die dag aangesteek is, my laat besef hoeveel dinkwerk daar in die program gegaan het.

Die tafels was presies voorberei met takname en afgevaardigdes se name op hulle plekke.

Die president van die VLVK se boodskap was treffend en gepas, ek het dit waardeer. Iets wat my sal bybly van die opening deur Michelle Stevens, is die idee dat uit gebrokenheid iets volkome heel geskep kan word. Die onderhoud met Fred Orban was interessant, maar ek dink hy moes meer praktiese advies gegee het. Ek weet steeds nie wat om met my tuinslakke te maak nie, want ek wil hulle nie eet nie.

Dit was baie insiggewend om die ratwerk van die organisasie beter te verstaan. Die feit dat verslae beskikbaar is om te lees, die feit dat daar takke is wat so mooi groei, en al die projekte wat verskillende takke aanpak het my begeester. Stilbaai se tafeldoek het my laat dink. Daar is soveel maniere om die taknaam uit te dra.

Die praatjie oor die mosaïek tonnel was baie treffend. Ek sien reeds ‘n mooi mosaïek asblik op my stap pad (in my geestesoog). Ronel Maree se gebaretaal aanbieding was prettig en lewendig en ons het baie geleer.

Die bekendmaking van die pryswenners was lekker om te beleef. Mens kon die gehalte sien en ook besef dat deelname saak maak, nie wen nie. Die wenke wat deur die beoordelaar gedeel is, was baie waardevol.

Tenslotte was dit heerlik om te kon deel in die verkiesing van ons tak se voorsitter as die nuwe SWD-vise-president. Baie geluk, Lydie! Ons sien uit om jou arms omhoog te hou!

Gelukkig was daar die mooie foto-hoekie om te kon heerlike groepfoto’s neem.