Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp
Portefeulje: Kuns-en Handvlyt Vergadering

Saamroeper: Elsette Strachan
Beriggewer: Letty-Ann Möller

Datum van vergadering: 3 Februarie 2026

Van stilswyende glimlagte tot spontane gelag… Bredasdorp druk saam Valentysdag in die rooi met hierdie groepsfoto.

BREDASDORP RAAK KREATIEF MET GEDAGTES EN COLLAGES

By aanvang van Bredasdorp-tak se eerste vergadering van 2026 is afskeid geneem van ‘n voormalige voorsitter en saamroeper van Landbou en Tuinbou, Annette van Eeden.

Letty-Ann Möller wens Annette van Eeden (middel) geluk mat haar trofee vir die beste ambassadeur van Bredasdorp-tak. Tannie Marie Spamer oorhandig die trofee.

Diana Odendaal, sekretaresse, som die sprekers se insette soos volg op:

Jon Daamen praat oor haar passie vir blommekuns. Sy was jare terug ‘n bloemis en het op verskeie plekke in die wêreld gewoon. Sy het beweeg vanaf vars blomme tot droë blomme wat sy gebruik om prentjies te maak. Oor die jare het sy geleer hoe om blomme te droog deur ‘n blompers te gebruik om hulle te pars. Sy het ook geleer watter soort blomme en blare die beste droog.

Carene Cooper en Annette van Eeden leer saam die kuns van blomme pars.

Jy moet hulle baie plat stryk met jou hand of vinger en dan tussen papier plaas. Telefoongidse is haar gunsteling om materiaal te droog en sy het omtrent 30 hiervan. Sommige plantmateriaal behou kleur en mens raak later slimmer met die uitsoek van materiaal wat werk.

Die blou blomme is gepars en gedroog in ‘n Hollandse telefoongids!

Jon het beweeg vanaf die tegniek bemeester om haar passie te kan najaag,tot vandag waar sy met emosie en kennis haar skeppings kan vervolmaak.

Hierdie is ‘n viering van 50 jaar se passie waar sy nou gereed is om werkswinkels aan te bied om mense te leer om soos sy vreugde uit die natuur te put. Waar sy met prentjies en albums begin het, werk sy nou met bestellings waar ‘n foto van die huis en parswerk met die plantmateriaal in die gekose tuin voltooi word.

 

Carene Cooper bedank die gasspreker, Jon Daamen.

Die saamroeper, Elsette Strachan, se tema: “kreatiwiteit as terapie” gaan baie goed by dames af. Sy lees die kompetisies van 2027 voor en moedig dames aan om nou al te begin dink en beplan hieraan. Sy herinner ons daaraan dat ons van God, “our Ceator”, praat. Dus maak dit sin dat toe Hy ons geskep het, Hy ons ook inherent kreatief gemaak het. Ons moet tyd maak om kreatief te verkeer – jy raak stil, jy ontdek, jy bou selfvertroue en jy hou jou kop besig.

Sy sluit af met die gedagte dat die VLV die perfekte plek is om te leer en saam kreatief te wees. Die doen is belangrik, nie die perfek nie.