Sirkel: Middelland
Tak: Aberdeen
Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Saamroeper: Lea van der Vyver (Voorsitter)
Beriggewer: Karin Pienaar
Datum: 17 September 2025
Terugvoer van die 95ste Kaapland VLV Kongres
Lea van der Vyver en Suzanne Lategan het die kongres bygewoon wat op 21–22 Augustus by Club Mykonos, Langebaan, plaasgevind het. Die tema vir 2026, Ons krag lê in spanwerk, en die projek, Van Tuin tot Tafel, is bekendgestel. Inspirasie is gedeel deur sprekers soos prof. Abel Esterhuise oor politieke en sosiale uitdagings, Fransine Prins oor spanwerk en dankbaarheid, Donovan Booysen oor interieurontwerp, en ander kundiges. ’n Hoogtepunt was dat Lizemari Jordaan 88% behaal het in die fotografiekompetisie met haar inskrywing, Elegante Eenvoud.

Suzanne Lategan vertel van die 95ste VLV Kaapland Kongres wat sy en Lea van der Vyver bygewoon het.
VLV Aberdeen: 93 Jaar van Saamstaan
Met trots is dit genoem dat die Aberdeen-tak hierdie maand sy 93ste bestaansjaar vier. Lea van der Vyver is ook as kandidaat benoem vir Sirkel Middelland President – ’n groot eer vir die tak.
Beplanning en Nuwe Bestuur vir 2026
Verskeie lede het uitgetree, en bedankings is oorgedra aan almal wat hul deel gedoen het.
Die nuwe bestuur vir 2026 is aangewys:
Voorsitter: Annelie Lategan
Vise-Voorsitter: Alicia van Heerden
Sekretaris: Karin Pienaar
Tesourier: Heidi Lombard
Saamroepers: Elize Steynberg (Gesondheid)
Carina van Rensburg (Kunste en Handvlyt)
Sari van der Merwe (Landbou en Tuinbou)
Lize de Jager (Leefstyl)
Alicia van Heerden (Opvoeding en Kultuur)
Luise de Jager (Openbare Sake)
’n Nuwe program is saamgestel, wat beloof 2026 ‘n vrugbare jaar vol groei en inspirasie sal wees.
Praktiese Sessie: Selfoonfotografie
Die vergadering is afgesluit met ’n praktiese sessie deur Alicia van Heerden oor hoe om mooier foto’s met ’n selfoon te neem.
Die volgende wenke is gedeel:
(1) Sorg dat die lens van die kamera altyd silwerskoon is.
(2) Sorg dat die “gridlines” aan is. Hierdie lyne help jou om die reël van derdes toe te pas, wat ’n bekende beginsel in fotografie is en jou help om gebalanseerde foto’s saam te stel.
(3) Skakel eerder die “auto flash” af wanneer foto’s geneem word. Die “auto flash” veroorsaak dikwels harde, onnatuurlike beligting in foto’s. Neem eerder ’n paar toetsfoto’s met en sonder die flits om self die verskil te sien—dikwels gee natuurlike of beskikbare lig ’n sagter en meer vlyende resultaat.
(4) Gebruik die “AE/AF lock” om die outo-beligting en outo-fokus vas te maak sodat jou foto’s konsekwent bly. Om dit te gebruik, hou eenvoudig jou vinger op die fokusarea van die skerm totdat “AE/AF Lock” verskyn. Dit is handig wanneer jy ’n reeks foto’s wil neem sonder dat die kamera se stellings elke keer verander. Om dit weer af te sit, tik net êrens op die skerm.
(5) Wanneer ‘n foto van byvoorbeeld die maan of kerslig geneem word, gebruik hierdie “AE/AF lock” en doof die outo-beligting heeltemal uit. Die maan of kerslig sal dan uitstaan op die foto.
(6) Gebruik die “Zoom Control” op die skerm om in en uit te fokus. Moenie met die beweging van vingers op die skerm die fokus verander nie.
(7) Neem foto’s in “Portrait”. Dit gee net ‘n beter foto as die gewone fotostelling. Die komposisies en beligting van die foto is beter. Die item waarop gefokus word is duideliker, terwyl die agtergrond vervaag.
(8) Neem foto’s met jou selfoon onderstebo. Die verander die hoek waarteen foto geneem word. Dit sorg vir ‘n beter komposisie van die foto en dit is ook makliker om voorwerpe nader aan die grond af te neem.
(9) Om vinniger foto’s te neem of “live” foto’s te neem, skakel die klank af.
(10) Neem foto’s uit ‘n hoër hoek, veral gesigfoto’s – steek die dubbelken weg.
(11) Gebruik die “timer” om pragtige foto’s te neem en te keer dat die kamera beweeg. Die sluiterspoed word vertraag en dit gee jou genoeg tyd om te poseer en seker te maak almal is in die foto.
(12) Die beste videos word geneem in “cinematic mode”.
(13) Gebruik die CapCut App om foto’s en video’s te redigeer.

Alicia van Heerden verduidelik hoe om verskillende funksies op ‘n slimfoon te gebruik om beter foto’s te neem.

Alicia se wenke is beproef, geoefen en foto’s is oor-en-weer geneem!

Agter vlnr: Alicia van Heerden, Karen van Rensburg, Annelie Lategan, Lize de Jager, Engela James, Lea van der Vyver (Voorsitter), Karin Pienaar, Carina van Rensburg
Voor vlnr: Elna van Niekerk en Suzanne Lategan