Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Paarl

Tak: Stellenbosch

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur / Openbare Sake

Beriggewer: Nina Strydom

Datum: 10 Julie 2025

Abraham Izak Perold het Pinotage in 1925 ontwikkel deur die Franse variëteite Pinot Noir en Cinsault, wat in Suid-Afrika as Hermitage bekend gestaan het, te kruis. Honderd jaar later het die Cape Mint, die oudste private munt in Afrika suid van die Sahara, in samewerking met die Pinotage Vereniging hierdie geleentheid herdenk met die munt van ‘n beperkte aantal driedimensionele munte. Dit beeld die ontwikkelaar van die land se vlagskipwyn uit. Op die munt is ook ‘n engeltjie wat in ‘n glas wyn piepie. Dit is, tong in die kies, na aanleiding van Perold wat lekker wyn “engeltjiepiepie” genoem het. Die Perold-nageslag is na hierdie geleentheid genooi. Danksy Sonja van Zyl, ‘n kleindogter, het lede van die VLV se Stellenbosch-tak die voorreg gehad om ‘n begeleide toer deur die fabriek van Cape Mint mee te maak.

‘n Italianer en meester-graveerder, Mauro Pagliari, het die besigheid in 1957 begin. Hy was van die eerstes om plaaslike mense in diens te neem en sy kuns van gravering aan hulle oor te dra. Met die besoek aan die Cape Mint was dit vanuit die staanspoor duidelik dat die werknemers by die Kaapse Munt soos een groot familie funksioneer met baie jare se geoefende, raar vaardighede en ervaring. Dit was baie duidelik dat hulle baie trots is op hulle werk. Die besturende direkteur, Natanya van Niekerk, en verkoopsbestuurder, Mark Trout, het ons deur die fabriek geneem en elke vakman geleentheid gegee om self te verduidelik wat sy werk en rol is. Hier word herdenkingsmedaljes, sportmedaljes, korporatiewe geskenke, trofeë, en veel meer vervaardig. Die Kaapse Munt het kliënte dwarsoor die wêreld. Gegee die kwaliteit van die eindproduk is dit geen wonder dat dit in aanvraag is nie.

(vlnr): Mark Trout (verkoopsbestuurder), Sonja van Zyl (Perold kleindogter) en Natanya van Niekerk (besturende direkteur) met die meesterafdruk van die vader van pinotage.

(vlnr): Mark Trout (verkoopsbestuurder), Peter Steyn (wêreld erkende meestergraveerder), Natanya van Niekerk (besturende direkteur) by ‘n foto van mnr Pagliari (stigter van die Cape Mint).

(vlnr): Pinotage se goue honderdjaargedenkingsmunt van naderby.