Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Sirkel Overberg

Tak: Gansbaai

Portefeuljes: Landbou en Tuinbou, Openbare Sake, Opvoeding en Kultuur, Gesondheid, Leefstyl, Kunste en Handvlyt (UITSTAPPIE)

Saamroepers: Mariana Vlok, Louisa de Wet, Lanita Marais, Leonie Botha, Marianna Mostert en Ronel de Villiers

Beriggewer: Marianna Mostert & Marinda van der Walt

Datum: 1 April 2025

 

GANSBAAI VLV HOU STERRE-PIEKNIEK

Aan die voet van die geskiedkundige Danger Point vuurtoring, het lede van die Gansbaai VLV op 1 April 2025, ‘n magiese aand onder die sterrehemel beleef.

Vroegaand is die piekniekmandjies, stoele en komberse uitgepak. Gekuier is daar gekuier. Ons, ons wederhelftes en gaste het hulle vere reggeskut om na die sonsondergang wat 29 minute na sesuur sou plaasvind, te kyk.

Die weer was perfek, die sonsondergang asemrowend, die eetgoed lekker. Selfoonkameras het geflits, die een foto na die ander is geneem om vas te lê hoe die son stukkie vir stukkie verdwyn … en soos die donkerte die oorhand gekry het en ‘n sekelmaan al hoe helderder geraak het, het Johan le Roux sy laserwyser uitgehaal en die groep gefassineer met sy groot passie: Sterrebondels, Planete en die Maan. Hy het ons rigtingloses gewys hoe maklik dit is om SUID vas te stel deur die Suiderkruis te gebruik. Hy vertel ook dat reeds vanaf die vroegste tye het die mens besef dat die sterre nuttig ingespan kan word om jou rigting te vind. Dit is veral belangrik op die oop see, waar daar geen ander bakens behalwe die hemelliggame is om te gebruik vir navigasie nie. Dit is uitsluitlik met hierdie doel dat die Sterrewag in Kaapstad in 1820 gestig is. Die posisies van die suidelike sterre was op daardie stadium nog nie goed bekend nie, wat dikwels gelei het tot skepe wat vergaan. Die tipe navigasie waarvan hier gepraat word, is redelik akkuraat en vereis spesiale toerusting. Daar is egter ’n paar maniere wat mens kan gebruik om jou rigting rofweg te vind sonder die gebruik van instrumentasie. Partymaal vereis dit dat jy moet wag vir ’n spesifieke tyd van die maand of jaar. Die komende paar maande is ideaal vir baie van hierdie metodes, en is dus ’n goeie tyd om daarna te kyk. (Let op dat die rigtings wat deur die sterre aangedui word, ware noord of -suid is, in teenstelling met magnetiese noord of –suid soos deur ’n kompas aangewys.) Die bekendste metode van rigtingbepaling met die sterre is sekerlik die Suiderkruis. Dit is ook ongelooflik hoeveel verwarring daar bestaan met hierdie metode; seker omdat daar meer as een metode is wat dikwels gebruik word. As mens egter verstaan hoekom die Suiderkruis suid aandui, behoort hierdie metodes meer sin te maak en dus makliker te wees om te onthou. Die “geheim” agter hierdie metode is om eers die posisie van die sogenaamde “Suid Hemelpool” te bepaal – die punt waarom die hemel skynbaar draai. Soos die aarde draai, vorm die sterre verder weg van die hemelpool al groter-wordende sirkels, terwyl die pool self, stilstaan. Soos die draaiing van die Aarde in die draaibeweging van die Suiderkruis in ’n paar uur op een aand waargeneem kan word, so ook kan die Aarde se beweging om die Son gesien word as jy elke aand op dieselfde tyd na die Suiderkruis kyk. Let op hoe die voet van die Suiderkruis altyd binnetoe wys, asof dit om ’n denkbeeldige punt draai – die hemelpool. Een probleem wat mense baie maal uit die staanspoor ondervind is om die regte Suiderkruis te kry tussen al die ander kruise, soos byvoorbeeld die Valskruis, die Diamantkruis, ensovoorts. Vroegaand teen middel April lê die Suiderkruis nog op sy sy met sy twee helder “wysersterre” reg onder hom, en is dit dus maklik om te herken. Die Suiderkruis is ook kleiner as die Valskruis en het ’n kenmerkende vyfde sterretjie wat die ander kruise nie het nie. Die bekendste metode is om die lang been van die Suiderkruis vier maal te verleng in die rigting van die voet van die kruis. Dit bring jou tot redelik naby die Suid Hemelpool. Hiervandaan word ’n lyn direk na die horison getrek wat dan ware Suid aandui. Hierdie kennis was waardevol omdat ons dit kon waarneem met die blote oog en Johan se laserwyser.

Dit was ‘n fantastiese aand en die Toringlamp het ook nie teleurgestel nie. Om en om het dit gegaan, om elke 39 sekondes die lig 50km ver oor die see te stuur.

Almal het asof uit een mond gesê: dit was ‘n fantastiese aand!

Ons het net weer besef hoe ‘n kragtige organisasie, wat vroue bemagtig, ons aan behoort.

Met dank aan Danger Point Vuurtoring, Johan le Roux, John McGregor, Glenda Kitley, Marinda van der Walt en al die fotograwe wat foto’s gedeel het.

Gansbaai VLV hou Sterre-Piekniek

Son nog mooi groot, besig om onder te gaan

Son sak nou vinnig

Die son is onder

Duidelik sigbaar is die Sekelmaan

Vuurtoring met sy Toringlamp te mooi

Ons hou Piekniek. Komberse, stoele en tafeltjies is ingespan om die piekniek lekker te maak

Sommer so uit die motor se kattebak het die heerlike eetgoedjies gekom.

Die sonnetjie skyn nog lekker en daar word lekker saam gekuier

Die aandliggie begin koeler word, nou word die kombersie nader sgetrek om die aand lekker snoesig te maak onder die sterre