SIRKEL: SUID-OOSKUS
TAK: HUMANSDORP
PORTEFEULJE: GESONDHEID
SAAMROEPER: NANETTE STANLEY
BERIGGEWER: ORA SCHROEDER
DATUM: 23 APRIL 2024
Humansdorp bly op hul voete

Marjanne Greeff, fisioterapeut van St Francisbaai, het kom gesels oor gesondheidsorg en wat ons moet doen om op ons voete te bly.
Mense is meer geneig om probleme met balans te ondervind namate hulle ouer word. In sommige gevalle kan jy jou risiko vir sekere balansprobleme verminder, maar probleme kan dikwels skielik en sonder ooglopende oorsake begin.
‘n Deel van die binne-oor is verantwoordelik vir balans. Sekere toestande soos diabetes, hartsiektes, beroerte, senuwees of bloedvate kan duiseligheid en ander balansprobleme veroorsaak.
Toestande wat oorhaastige beweging na die badkamer veroorsaak, soos inkontinensie, kan ook die kans van val verhoog. Ouer volwassenes met ligte kognitiewe inkorting of sekere tipes demensie het ook ‘n groter risiko om te val.
Die skoene wat met veters toegeryg word of met ‘n bandjie oor die voet vasgemaak is, is verkieslik omdat verhoed dat die voet vorentoe in die skoen gly. Bostukke van skoene moet sag en plooibaar wees. Hakke moet liefs laag en breed wees. Die skoen moet stewig om die hak pas, maar daar moet genoeg ruimte vir ekstensie van die tone wees. Die dra van pantoffels behoort ontmoedig word, aangesien die risiko van val groter is. Nat vloere, los matte en trappe kan gevaarlik wees.
‘n Korrekte houding is belangrik. Wanneer ‘n persoon verkeerd loop of staan word die spiere en gewrigte in die rug en bene verkeerd gebruik en gee dit aanleiding tot pyn in die voete, bene en rug.
Gereelde oefening verbeter spiere en maak jou sterker. Oefening help ook om jou gewrigte, senings en ligamente buigsaam te hou. Probeer balans- en kragoefeninge, joga, pilates en tai chi. Dit kan almal balans en spierkrag verbeter.

Wat moet bejaardes doen as hul val?
Probeer ontspan. Bly vir ‘n paar oomblikke stil lê om oor die skok te kom. Besluit dan of jy seergekry het. Om vinnig of op die verkeerde manier op te staan kan ‘n besering vererger. Kruip daarna na ‘n stewige stoel. Rus weer terwyl jou liggaam en bloeddruk aanpas. Druk op die stoel om op te kom. Gaan sit stadig op die stoel.