Vredendal vat hande

 

Vredendal vat hande

Posted by VLV in News, Vredendal Tak 28 Jul 2017

Sirkel: Namakwaland

Tak: Vredendal

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: A Beelders

Datum : 27 Julie 2017

 

 

 

Sophie Malan het Pres. Obama aangehaal wat gesê het: “Verandering sal nie gebeur as ons vir iemand anders of ‘n ander tyd wag nie … Ons is die verandering wat ons soek”. Ons sal ons energie, talente en vaardighede moet beskikbaar stel om die mense te help wat reeds op voetsoolvlak met die probleme werk.

 

Vredendal se VLV het hul Julievergadering daaraan gewy om te probeer om gemeenskapsbetrokkenheid te stimuleer. Sophie Malan, Sameroeper vir Openbare Sake, het die algemene kommer oor die toestand in ons land verwoord toe sy gesê het dat 8 persone wat sy persoonlik geken het die afgelope paar jaar in Vredendal vermoor is en dan praat ons nie eens van die mishandeling van vroue en kinders, tienergeboortes, dwelmhandel en -misbruik en selfdood nie. Van die olifant in die vertrek, die ongebreidelde bevolkingsaanwas, praat niemand nie. Verskeie sprekers het elk 5 minute gehad om te praat. Ds Jan Fourie het gelees uit Jeremia, wat die Israeliete wat na Babel verban is, maan om wortel te skiet en die stad se belange hulle eie te maak. Die kerk moet uit sy ivoortoring kom en die gemeenskap in al sy fasette leer ken en verstaan, uitreik na nader inisiatiewe en begin om voorkomend ipv reaktief op te tree. Hy noem ook een van die grootste sosiale probleme, nie net in SA nie, maar ook elders in Afrika: afwesige pa’s.

 

Gustav de Vries, prokureur, verduidelik hoe dit gebeur dat ‘n oortreder loskom en weer dieselfde misdryf – of erger – pleeg. Dit het te doene met die regsbeginsel dat iemand onskuldig is totdat sy skuld bewys is. Uiteindelik is die gevolgtrekking dat die regstelsel nie n gesonde samelewing kan skep nie.

 

Sprekers van die dag:  Gail Baptista, ds Jan Fourie, Sophie Malan, Tollie Louw, Elma Visagie, Susan Carstens, Desiree Brand, Dirk de Bruyn, Riaan Bester, Marius Esterhuizen, Gustav de Vries en Jaco Smit.

 

Desireé Brand, kunstenaar, vertel van haar projek om deelnemers lyfkaarte te laat skep, veral om jong mense te bemagtig. Sommige van dié kunswerke gryp mens regtig aan die hart.

 

Dirk de Bruyn van Namaqua Wyne vertel van sy mentorskap van twee boere van Ebenhaeser wat na ‘n wankelende begin, vanjaar ‘n bietjie druiwe geproduseer het waarmee ‘n heel skaflike wyntjie gemaak is. Plaaslike jongmense het met Desireé Brand se bystand mooi etikette vir die bottels ontwerp en hulle soek nog ‘n mooi Afrikaanse naam vir hulle wyn.

 

Lenie Januarie van die Dept van Maatskaplike Ontwikkeling het vertel van haar werk met slagofferbemagtiging, wat beskerming, berading, ontlading en ondersteuning behels. Seksuele en kinder- en vrouemishandeling neem toe en daar is ‘n behoefte aan ‘n skuiling vir vroue. Hulle soek ook vrywilligers om te help.

 

Vervolgens praat Tollie Louw oor selfbeveiliging en die belangrikheid  van buurtwagte. Misdaad neem af waar daar buurtwagte is. Om daarby aan te sluit, praat Jaco Smit en Riaan Bester van die SAPD oor die aard van dwelmmisbruik: dit begin met tabakrook, gaan oor na dagga, dan na Mandrax en uiteindelik eindig dit met tik. Die bose kringloop lei noodwendig tot misdaad, want die dwelms word al hoe duurder. Uiteindelik eskaleer dit heeltemal buite beheer en die verslaafde dompel sy hele familie in die ellende. In Jaco se hartroerende woorde: “Die gemeenskap smeek om hulp”.

 

Marius Esterhuizen is gemoeid met misdaadvoorkoming en bewusmaking, wat moet begin by huishoudings, skole en kerke. Elke huishouding moet sy eie veiligheidsmaatreëls hê. In haar opsomming beklemtoon Susan Carstens, maatskaplike werker by die WKOD, ook dat alles by die gesin begin en daarom is haar werk met oueropleiding en –opvoeding so belangrik vir die hulp aan stukkende kinders.

 

In besprekingstyd vertel Gail Baptista van haar werk met mishandelde vroue en Elma Visagie van die LGO het die soeklig laat val op ontwikkelingsprogramme met plaaswerkers. Verder is die idee geopper dat ‘n databasis van die verskillende inisiatiewe in die gemeenskap opgestel moet word. Dit sal samewerking bevorder en duplisering voorkom. Soos iemand dit gestel het: Daar is darem nie net laste nie, ons het ook bates.

 

 

Post a comment

2 × 3 =