Volhoubare Windenergie

 

Volhoubare Windenergie

Posted by VLV in News, Suider-Paarl Tak 17 Aug 2017

Sirkel: Paarl

Tak: Suider-Paarl

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: Elsa Hanekom

Datum: 16 Augustus 2017

 

Nadat dr Jannie Retief aan Tukkies gegradueer het, het hy 21 jaar in die Paarl gewoon.  Hy was ook vir 21 jaar in die buiteland (Engeland, Amerika, Duitsland en Kanada) waar hy onder andere betrokke was by die oprigting van windplase.  Dr Retief werk tans in Johannesburg, maar het die geleentheid aangegryp toe hy genooi is om in die Paarl met ons oor volhoubare energie te kom gesels.

Volhoubare energie:  Son, wind en water.  Die son hou nooit op skyn nie, die wind hou nooit op waai nie en boonop is dit gratis.  Ander bronne van krag, soos olie en steenkool, kan wel uitgeput raak.

 

Volgens die regering se plan van 2010 moet 42% van ons krag teen 2030 hernubaar wees en dit sal oor verskeie rondtes geskied.

 

Om ‘n windplaas op te rig, moet daar eers ‘n tender ingedien word.  ‘n “Request for proposal” moet opgestel word.

Daar is drie kriteria waaraan die area waar die beplande windplaas opgerig gaan word, moet voldoen:

  • die wind moet waai (baie waai);
  • dit moet toeganklik wees. (‘n Lem is 50m lank en die mas is 50m lank [om dit in perspektief te plaas – ‘n rugbyveld is 100m lank]).  Vragmotors moet die area kan bereik.
  • die area moet naby ‘n Eskomsubstasie wees. Die elektrons moet in die nasionale grid ingaan.

‘n Omgewingsimpak studie moet vooraf gedoen word. ‘n Mas word opgesit om die windspoed en -rigting te bepaal.  So ‘n studie kan tot drie jaar neem.

 

Die gemeenskap in ‘n sekere radius van die windplaas moet ‘n persentasie van die windplaas besit en ‘n persentasie van die inkomste ontvang.  So is daar al in die proses verskeie hospitale en skole opgerig.

 

Dit neem ongeveer 3 jaar om ‘n tender voor te berei.  So ‘n tender kan uit duisende blaaie bestaan.  Die tender noem onder andere die tarief aan Eskom, die gemeenskapsimpak, en bevat ‘n “birds and bats” ontleding wat ook gedoen moet word.

 

In rondte twee is 78 tenders ingedien waarvan slegs 19 geslaag het.  Dit kos ongeveer R10 miljoen om net die tender voor te berei. Indien die tender gewen word, word daar ‘n ooreenkoms met Eskom aangegaan waar Eskom vir 20 jaar die krag teen die bedrag wat getender is, aankoop. Finansiering word verder van banke en privaat instansies verkry vir die oprigting van die windplaas.

 

Dr Jannie Retief verduidelik hoe die lemme werk

 

‘n Turbine produseer 2 mega watt en kan ongeveer 2000 gemiddelde huishoudings van krag voorsien.  Die krag wat deur die windplase opgewek word, gaan in die groter grid in en nie vir die naaste dorp nie. ‘n Turbine bestaan uit 5 stukke.  Dit is ongeveer 100 meter hoog en het hysers aan die binnekant.

 

Alles word vooraf gemonteer en ter plaatse aanmekaar gesit.  Die stukke word op die grond aanmekaar gesit en dan deur twee hyskrane opgelig.  Dit is so eenvoudig soos om ‘n Meccano-stel aanmekaar te sit.

 

Die toerusting sit in die kop – ‘n windmeter wat spoed meet en ‘n weerhaan wat die wind meet.  Die kop weeg 75 ton.  Daar is drie lemme aan die kop. Die fondasie is 22m in deursnit en 26 ton staal word gebruik. Tot 60 betonmengers is op eenslag nodig.  Sand en sement moet dus naby wees en dikwels moet ‘n sementaanleg aangelê word.

 

Die oprigting van die windturbines is eenvoudig, die logistiek rondom die oprigting is egter die uitdaging.  Spesiale paaie vir hierdie buitengewone groot vragmotors word vereis.  Paaie moet herbou word.  Die vragmotors is byvoorbeeld te lank om rondom verkeersirkels te gaan, drade oor paaie moet gelig word, ensovoorts.

Die lemme mag nie vinniger as 15 revolusies per minuut wees nie.  Indien die wind te sterk is, kan die mas knak.  Wanneer die wind te sterk is, draai die lemme parallel en stop binne 3 draaie.

 

Onderhoud moet elke ses maande geskied en word gedoen wanneer die wind nie waai nie.

 

Die windturbines word gestop wanneer voëls migreer.

 

Suid-Afrika is ideal vir hierdie tipe van energie – ons het die plek (Karoo / Noord-Kaap) en die son en die wind.  Die program is nou in rondte drie.  Die Regering het ongelukkig besluit om nie verder te teken nie.  50 projekte is reeds goedgekeur, maar is vereers op ys geplaas.

 

Alhoewel windturbines iets is waarvan ons maar eers die laaste paar jaar bewus geword het, is dit nie ‘n nuwe uitvindsel nie.  Die eerste windmeule is al duisende jare gelede deur die Hollanders gebou.  Volgens dr Retief is hierdie windturbines niks anders as net ‘n gewone windmeul nie.

 

Mev Ducky Botes (Sameroeper:  Landbou & Tuinbou) oorhandig ‘n geskenk aan dr Retief.

Post a comment

five + four =