Van bewaring tot wynmaak op Linton Park

 

Van bewaring tot wynmaak op Linton Park

Posted by VLV in News, Wellington Tak 17 May 2019

Sirkel: Paarl

Tak: Wellington

Portefuelje: Landbou en Tuinbou;Openbare Sake en Leefstyl

Beriggewer: Karen Barnard

Datum: 16 Mei 2019

 

Linton Park is op die plaas Slangrivier aan die voet van Groenberg, net buite Wellington.  Wellington Tak se dames het die 294 hektaar geskiedkundige plaas gekies as hulle bestemming vir ’n maandbyeenkoms. Goewerneur Adriaan van der Stel het die plaas in 1699 aan Louis Fourie, ‘n Franse Hugenoot, toegeken. Camellia Holdings het die plaas in 1995 gekoop. Die Engelse maatskappy besit verskeie plase en industrieë reg oor die wêreld.  Hulle wissel van tee plantasies, advokado’s, macadamia neute, visserye en die wynplaas in die Boland.  Die huis dateer uit 1809 en is deur die hoof van Camellia laat restoureer na sy oorspronklike uitleg.  Die huis is egter nie oop vir die publiek nie en huisves die eienaaar van die plaas as hy Suid-Afrika besoek.

 

 

Die dames het nie net geleer van die geskiedenis van die plaas nie, hulle het van die natuur gaan ervaar.  Ons is met ‘n bakkie en motors na sowat 660m bo seevlak gery en by die bekende “broodklip” bymekaar gekom.  Roedolf Jv Vuuren, plaasbestuurder, het vir ons die hervestiging van 60 hektaar renosterveld gewys en ingelig oor die bedrywighede op die plaas.  Die plaas het 80 hektaar wingerd van verskeie kultivars, 60 hektaar is  bewaringsgebied, drie damme, plaashuise en dan die styl hange met bloekombome.  ‘n 5-10 jaar projek is tans besig om die bloekombome uit te haal, omdat dit uitheems is en sowat 200-300 liter water per dag gebruik.  Die plaas is afhanklik van reënwater en aflope en kan nie langer bekostig om bome te hê, wat al die moontlike water wat opgevang kan word, drink nie.  Staproetes en hervestiging van renosterveld en fynbos aan die hange is alles deel van die plaas se toekomsplanne.

 

 

Terug by die kelder het ons heerlik in groepe gesit en van die wyn wat gemaak word op Linton Park, geproe.  Die kelder spog met ‘n Linton Park reeks en Rhino reeks.  85% van die wyn wat gemaak word, word uitgevoer en slegs 15% is plaaslik beskikbaar.  Die kelder maak ook meer rooi- as wit wyn.  Die Rhino reeks is spesifiek daar om hulle ondersteuning te bied teen renosterstropery.  Vir elke bottel Rhino wat verkoop word, gee Linton Park R1 vir die organisasie “ Rhino’s without borders”.  Diè organisasie skuif die Renosters na Botswana waar die stropery nie so ‘n probleem is nie.  Dit is om te help dat die renosters nie uitsterf nie.  Verskeie ander instansies en skole het ook al gehelp om geld in te samel vir die “Rhino’s without borders”.

 

Voorwaar ‘n heerlike oggend in die buitelug.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Post a comment