Smullekker aand

 

Smullekker aand

Posted by Natania Schmidt in Acqua Tak, News 14 Nov 2018

Sirkel: Middelland
Tak: Acqua
Beriggewer: Natania Schmidt
Datum: 14/11/18

 

Acqua se November-samekoms is nie die verantwoordelikheid van enige spesifieke studierigting nie. Die jaarprogram sê dis ‘n “demonstrasie-aand”. Ons kon eintlik gesê het dis ‘n “inspirasie-aand”, want inspirasie is wat hier op die vooraand van die Feesseisoen nodig is.

 

Almal is woes aan’t beplan vir die Feesseisoen wat voorlê. Net soveel as wat ons uitsien na lekker laaaaang kuiers met smullige happies, bedien op mooi oorgroot wit borde, net soveel lê die blote gedagte aan regstaan vir gaste soos ‘n berg voor jou. Die inspirasiekerf is mos maar dun geskaaf hierdie tyd van die jaar.

 

Soos altyd en met alles, gaan Acqua toe groot. Ja wat, as ons inspirasie nodig het, veral kosinspirasie, dan wil ons aan die voete van ‘n kosghoeroe sit. Ons spesiale gas vir die aand was sjef extraordinaire, glanskok, kosevangelis en kulinêre meester, François Ferreira. Nét die man om te inspireer vir daai peuselhappies wat ons ewe nonchalant met nederige fanfare op die oorgroot borde aan ons gaste wil voorsit. Die tema van sy demonstrasie was Festive snacks with a twist.

 

    

 

Onthaal in die Feesseisoen hou geen meer vrese in vir almal wat gesien en gehoor het wat maklik en vinnig opgetower kan word nie. Wie’t nou ooit gedink dat mieliemeel of die ou bekende chilli bite mix met suurroom, ‘n bietjie kaas, dalk ‘n paar takkies koljander of ‘n knippie rooipeper gebruik kan word om asemrowende happies te maak.

 

Baba aartappels met ‘n sampioenvulsel, aarbeisalsa, roomkaas en biltongtruffels, spinasieballetjies met uie en rissie, tuisgemaakte blatjang en, en, en. Voortaan sit ons amuse-bouche met groot gemak aan ons gaste voor.

 

Dit was ‘n vreeslike gesellige kuieraand. Lede het gaste gebring en daar was selfs ‘n wederhelf of twee. Die 132 gaste het behoorlik aan François se lippe gehang. Hy is ‘n baie kundige sjef en sy aanbieding is ontspanne en gemaklik met ‘n goeie skoot humor. Daar’s nie net aan sy lippe gehang nie, maar ook lippe afgelek, want alles het alte lekker geruik en gelyk. The proof of the pudding is in the eating, lui die spreekwoord. Wel, die proeslag het bewys dat hy die naam van kosghoeroe meer as werd is!

 

    

 

 

Die aand sou nie so ‘n reuse sukses kon wees sonder die hulp en borgskap van:
• AW Events
• Above and Beyond Produksies
• Port Elizabeth Gholfklub

Post a comment

12 + 5 =