Polisie kom tot hul redding

 

Polisie kom tot hul redding

Posted by VLV in News, SIRKEL NUUS 18 Aug 2017

Sirkel: Noordwes-Kaap

Geleentheid: Kongres 2017

Beriggewer: Erika Lubbe

Datum: 17 Augustus 2017

 

VLV-geskiedenis is gemaak deur vier van Sirkel Noordwes-Kaap se kongresafgevaardigdes, by name: Almarie Alberts, afgevaardigde VLV Marydale; Elzaane Maree, waarnemer VLV Marydale; Landi de Beer, afgevaardigde VLV Prieska, en Tineké Jacobs, afgevaardigde VLV Volop, wie se vreugde geen perke geken het toe hulle die pad vrou-alleen aangedurf het Langebaan toe nie. Wat ‘n groot vreugde en opgewondenheid was, het amper in ‘n nagmerrie geëindig!

 

Alles het baie voorspoedig verloop tot rondom aguur die aand terwyl Almarie, die bestuurder van Elzaane se voertuig, meteens vonke sien spat en rook sien borrel het. Die voertuig het onder die stuurwiel, tussen Almarie se bene, begin brand as gevolg van ‘n elektriese kortsluiting. Almarie het onmiddellik remme aangeslaan en al vier het amper tegelykertyd uitgespring/-val.

 

Wat ‘n konsternasie, maar die VLV-bloed wat dik in die are loop, het dadelik ingeskop en hulle het soos een man die bul by die horings gepak. Almarie het die vlamme probeer blus, Landi en Tineké het so gou as moontlik die bagasie uit die voertuig gelaai om te red wat daar te redde is en daar moes darem telefoon ook gepraat word om reëlings te tref en so moes Elzaane self die slegte tyding aan haar man oordra!

 

‘n Polisievoertuig met twee engele, ene konstabel September en konstabel Joubert, het tot hul geluk en groot verligting daar aangery gekom. Met die vangwa se brandblusser kon hul gelukkig die vuur blus, maar groot skade was reeds aangerig.

 

Hoe nou gemaak? ‘n VLV-vrou wat op pad Kongres toe is laat haar regtig nie van ‘n brandende  voertuig van stryk bring nie, want by die Kongres moet sy kom! Kom wat wil…..  Met bagasie en al het die twee polisiemanne hulle agter in die vangwa na die naaste dorp, Elandsbaai, geneem. Die ergste van alles was – toe die vangwa se deur agter hulle toemaak en die sleutel in die slot draai, het die realiteit hulle getref en Elzaane het so ampertjies in ‘n floute verval en hulle moes net lawe. Dit was darem eens net te erg vir haar! Sjoe! Agter in ‘n vangwa…….  Nadat hulle Elzaane kalmeer en tot bedaring gebring het, het hulle soos een man begin lag, sonder om op te hou, soos nog nooit in hulle lewe nie. Dit was natuurlik van pure skok!

 

Agter in die vangwa v.l.n.r.: Almarie Alberts, Tineke Jacobs, Elzaane Maree en Landi de Beer.

 

Pieter Duvenhage, eggenoot van Amanda – afgevaardigde VLV Niekerkshoop, het tot die laggende vier se redding gekom deur hulle in Elandsbaai te gaan haal en Langebaan toe te neem. (‘n VLV-lid se man is, na sy troue, sulke hulpvaardigheid geleer!) Pas na middernag in Langebaan aangekom, het die Polisie van Elandsbaai gebel op soek na hul vermiste dokumente. Toe raak die vier laggende vroue se lag meteens doodstil en ‘n koorsagtige soektog het begin, want om met die gereg slaags te raak pas glad nie by ‘n VLV-vrou se beeld nie. Die dokumente het op een af ander manier seker met die oorlaai in die vangwa tussen hul bagasie beland. Wat ‘n groot verligting en toe begin hul lag van voor af……

 

Die ander afgevaardigdes van Sirkel Noordwes-Kaap het hul getraumatiseerde VLV-vriendinne ingewag, soos dit goeie VLV-lede betaam, met vir elkeen ‘n slaappil en ‘n glasie wyn. Dit het na ‘n rukkie die onophoudelike lag laat bedaar tot ‘n flou gegiggel totdat die vier se liggies kort daarna tydelik uitgedoof is.

 

Kongresmôre het hulle opgestaan met lyfseer (van bagasie wat in ‘n oogwink van die brandende voertuig afgelaai moes word) en kopseer (wat moontlik die gevolg kan wees van die ‘medikasie’ van die VLV-vriendinne wat hul ingewag het)……. Toe die Kongres die volgende oggend open, was hul soos betaamlike afgevaardigdes getrou op hul pos en kon hul die Kongres verder met hart en siel geniet!

 

Hulle is soos hooggeëerde VLV-lede in ‘n spoggerige gehuurde motor na afloop van Kongres terug huis toe. Elzaane het mos gereël en ‘n VLV-vrou kan reël! Een feit staan soos ‘n paal bo water: ‘n VLV-vrou laat haar nie onder kry nie en is altyd ná ‘n teenspoed beter af as daar vóór! Beslis ‘n VLVK-kongres wat hierdie vier VLV-lede nooit sal vergeet nie!

Verlig na die redding en hier saam met een van die engele wat tot hul redding gekom het. V.l.n.r.:  Tineke Jacobs, Landi de Beer,  Elzaane Maree en Almarie Alberts

Post a comment

four × 4 =