Miniatuurtjies laat grootmense sprakeloos

 

Miniatuurtjies laat grootmense sprakeloos

Posted by VLV in Kleinmond Tak, News 26 Jul 2017

Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Kunste&Handvlyt

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 25 Julie 2017

 

Lede was sprakeloos by aanskoue van die werk deur twee lede van die Miniatuurgilde tydens die VLV-tak van Kleinmond se Kunste & Handwerkvergadering. Jeanette Fischer en Isa Lindstrom het gesamentlik uitgestal en verduidelik hoe maak hulle en ander lede van die gilde, hierdie perfekte klein artikels op ‘n skaal van 1:12. Alles word met die hand gemaak en alle kuns- en handvaardighede soos skilder, brei, hekel, kantmaak en borduur tot by klei speel word saam met houtwerk en soldeersel ingespan om hierdie miniatuur replikas te skep.

 

Foto 1: V.l.n.r. Jeanette Fischer en Isa Lindstrom saam met Annie Jooste, taksaamroeper vir Kunste&Handvlyt, by die miniatuur-uitstalling met van die skilderye van Luanda de Klerk, taksekretaresse, in die agtergrond.

 

Die maak van miniatuur artikels dateer in Europa reeds uit die 15/16de eeu waar lewensgetroue replikas van herehuise en hulle inhoud bestaan – vermoedelik om vir die dogtertjies van kleinsaf die vaardighede van goeie huishouding te kon leer. Tog word hierdie kunsvorm vandag gesien as ‘n volwasse stokperdjie en nie as kinderspeelgoed nie. Breiwerk word op penne van klavierdraad gedoen en borduurwerk op die fynste materiaal met die allerdunste draad. Van die lede van die Miniatuurgilde spesialiseer in spesifieke artikels soos die verf van miniatuurskiderye of die maak van vrugte, groente en ander klein artikels uit Fimo clay en perfek geskakeer. Hierdie klein detail is wat lewe gee aan die uitbeelding van ‘n vertrek. Die vertrekke word met LED-strookliggies verlig. Belangstellendes uit die Overstrandgebied kan gerus na hulle uitstalling vanaf 3 – 8 September in die Grassulasaal, Bettysbaai kom kyk.

 

 

 

 

 

 

 

‘n Nabyskoot van ‘n musiekkamer.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

En ‘n stoep – net die plek om te sit en koerant lees!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

VLV-lede het ook hulle stokperdjies kom uitstal en daar was enigiets van juwele, laslapwerk, skilderye, handgemaakte papier-artikels, houtsneewerk tot gebak en gebottel. Net weer ‘n bewys dat VLV-vroue nie stilsit nie, selfs al is hulle afgetree. En vir die wat liewer met hulle hande in die grond woel, was daar ‘n wenk om steggies te maak van krismisrose, want tuinmaak is ook ‘n stokperdjie.

 

Essie Groenewald en Marietjie Janse van Vuuren se tee word koud so verkyk hulle hul aan die lieflike miniatuurtjies. Regs bo op die verhoog is die uitstalling van Donna Brand se laslap- en hekelwerk asook juwele.

 

 

 

 

 

 

 

‘n Wenk vir diegene met tuinmaak vir ‘n stokperdjie.

Post a comment

8 + three =