Koester ons jeug

 

Koester ons jeug

Posted by VLV in Kleinmond Tak, News 30 Aug 2017

Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Opvoeding&Kultuur

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 29 Augustus 2017

 

VlV en Kindersorg vat hande

 

Die lede van die Kleinmondse VLV-tak was gedurende Augustus by twee geleenthede betrokke by die Jeugsentrum/Kinderhuis in Proteadorp waar 26 kinders uit die Overberg ‘n veilige tuiste vind. As deel van die VLV-tak se Omgee-projek is gebreide mussies en snoepgoed tydens die eerste besoek oorhandig. Daarnà is dit opgevolg met heerlike pannekoek, tydskrifte, boeke en speelgoed.

 

Cecile Jonkheid(takvoorsitter), links saam met Theresa Els (spreker) en Louise Bruwer (saamroeper Opvoeding&Kultuur) regs.

 

Hierdie betrokkenheid het ‘n “gesig” gekry toe Theresa Els, hoof van die Jeugsentrum, die spreker was by die tak se maandvergadering op 29 Augustus. Die gasvroue verantwoordelik vir die middag se reëlings was die lede van die portefeulje Opvoeding&Kultuur met Louise Bruwer as saamroeper. Vir ‘n middag kon die lede en gaste hulle verbeel hulle is weer, ja letterlik, terug op die skoolbanke. Kompleet met inkpotjies, was skoolbanke deel van die saal se dekor.

 

Die vriendelike gasvroue van die middag is voor v.l.n.r. Ria Maree, Peggy van Tonder, Maria Theron, Reinette van Niekerk, Louiè Booysen en Marianne de Wet met agter vl.n.r. Lentie Knott, Louise Bruwer (saamroeper vir Opvoeding&Kultuur) en Isabel du Plessis.

 

Lede is bekoor deur die voordragtalent van Mariska Olivier van Laerskool Kleinmond en die Afrikaanse voorskoolse sanggroepie van Siyabulela-Kleuterskool o.l.v. Natashia Robite. Nà die gewelddadigheid wat Kleinmond die vorige dag geruk het, was hulle opvoering van “Hy hou ons almal in Sy Hand” weer vir almal ‘n versekering.

 

 

Natashia Robite en haar sanggroepie voer “Hy hou ons almal in Sy Hand” op.

 

Theresa Els het met haar praatjie die werk van Kindersorg toegelig en onbewustelik aangesluit by die VLV se onlangse Kongrestema (waaroor voorsitter Cecile Jonkheid verslag gedoen het) van MÔRE BEGIN VANDAG.

 

 

“Ons moet vandag begin om die kind op te voed en te begelei om môre soos ‘n verantwoordelike volwassene op te tree.”

Ouers weet soms nie eens hoe om met hulle kinders te speel nie, wat nog te sê vir hulle met huiswerk te help! Deur ‘n veilige omgewing vir kinders wat uit probleemsituasies verwyder is, te skep, help ons hulle om op die toekoms te fokus” het Theresa Els gesê. Die vier kleuterskole wat in Kleinmond en Bettysbaai deur Kindersorg bedryf word, voldoen aan alle vereistes wat deur die Maatskaplike Ontwikkelingsraad vereis word. Daar leer kleuters sosiale en skolastiese vaardighede en kry hulle ‘n maaltyd per dag.

 

 

 

 

 

Die tak moes ook afskeid neem van Christine Lambrechts wat sedert 2004 die tak se tesourier was, ‘n amp wat sy met groot verantwoordelikheid beklee het. Sy en haar man Errol verhuis na Melkbosstrand en Christine se VLV-vriendinne vertrou dat sy spoedig weer by ‘n nabygeleë tak sal inskakel. Te veel talent, betrokkenheid en kennis om te vermors! Christine het ook haar 25 jaar-diensknopie ontvang.

 

Voorsitter Cecile Jonkheid(regs) het ‘n potplant aan Christine Lambrechts oorhandig as afskeidsgeskenk.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Om te fokus op die kultuuraspek van die portefeulje is ‘n uitstalling gehou van lede se eksemplare van die ikoniese “Kook&Geniet” wat tans soveel prominensie op TV geniet. Heelwat staaltjies oor diè reddingsboei wat wyle mev De Villiers vir ‘n onervare huisvrou was, is rondom die uitstaltafel gedeel waar eksemplare van vroeg in die 50er jare tot die heel nuutste een te sien was.

 

Marie le Grange, Carlotte Kiesling, Lisbè Badenhorst, Mereille Nel en Johanna Groenewald deel staaltjies uit hulle ervaring met “Kook&Geniet” by die tafel waar eksemplare vanaf die vyftiger jare tot die heelnuutste van hierdie ikoniese kookboek uitgestal is.

 

 

Die verrykende middag is afgesluit met ‘n verskeidenheid soppe en tuisgebakte brode. Koesterkos op ‘n middag toe almal maar effens broos gevoel het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

‘n Blik op die saal met sy klaskamer-dekor en -atmosfeer.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

‘n Onverwagte, maar baie welkom gas by die vergadering, was Hilary Nepgen (regs), voorsitter van Langebaan VLV-tak. Toe kon sy self hoor hoe ‘n groot indruk het Kongres 2017 op Cecile Jonkheid (links), Kleinmondtak se afgevaardigde gemaak, toe verslag van Kongres gelewer is.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

   

 

Een van die fraai klein haasbekkies wat al die oumas se harte vermurwe het.

 

 

 

 

 

 

 

Ria Maree bedank vir Mariska Olivier nà haar voordrag.

Post a comment

4 × four =