Die vrou en haar geldsake

 

Die vrou en haar geldsake

Posted by Natania Schmidt in Acqua Tak, News 14 Sep 2017

Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 13 September 2017

 

Finansiële beplanning was op die Openbare Sake-spyskaart vir Woensdagaand,13 September. Sameroeper, Fredalene Snyman, het groot moeite gemaak om ‘n aand propvol pitkos aan die lede te bied. Die spreker, Riaan Strydom van PSG, het soos Daniël in die leeukuil, ongeskonde en triomfantlik die VLV-kuil verlaat. Die vroulike garde het geswig voor sy ooglopende kundigheid oor sake van finansiële aard.

 

Riaan Strydom & Kwakkie

 

Sy praatjie handel oor die vrou en haar finansies. Ten eerste gee hy so ‘n bietjie agtergrond oor die vrou se rol in die samelewing en hoe die vrou bemagtig word.

 

Daar is meer vroue as mans in Suid-Afrika. Van die meer as 56 miljoen mense in die land, is sowat 51,1% vroue. Vroue verrig 66% van die wêreld se werk en produseer 50% van die kos. Dit was natuurlik nie nuus vir ‘n lokaal vol deugsame vroue nie.

 

Ons, die vroue in Suid- Afrika, het ’n langer lewensverwagting as ons manlike eweknieë. Die lewensverwagting vir vroue is 66.7 jaar in vergelyking met 61.2 jaar vir mans.

 

Jy sal dus ’n meer aktiewe rol moet speel in die bestuur van jou finansies en die beskerming van jou bates, met ’n duidelike plan vir hoe die bates verdeel moet word wanneer jy nie meer daar is nie.

 

Langer lewensduur beteken inderdaad ook meer uitgawes. Jou pensioen moet langer hou en jy sal hoër mediese uitgawes moet befonds.

 

Inflasie is die grootste vyand. As inflasie jou eers verbygesteek het, is dit verby. Jy haal dit nooit weer in nie. Jy moet sorg dat jou voorsiening vir aftrede voldoende is om voor te bly.  Die reël van 72 gee hier vir jou ‘n goeie aanduiding van wat nodig is om jou lewenstandaard te handhaaf. Deel 72 deur die inflasiekoers en dis die aantal jare waarin jou uitgawes sal verdubbel. Jou inkomste sal in daardie tydperk ten minste óók moet verdubbel vir jou om te kan byhou.

 

Hy gee raad oor finansiële beplanning uit ‘n vrou se perspektief en finansiële beplanning in ‘n vrouewêreld. Riaan adviseur die dames dat hulle finansiële advies benodig wanneer hulle van werk sou verander, beplanning doen vir hul aftrede en wanneer daar ‘n verandering in huwelikstatus en gesinsdinamika is.

 

Die goue reël vir welstand is om minder te spandeer as wat jy verdien. Wyse woorde.

 

Lid, Annelie Botes, die bekende skryfster, vertrek binnekort na Engeland. Sy en haar man, Chris, gaan vir drie maande in ‘n boot (narrow boat) deur die Engelse kanale vaar. Hulle het met behulp van ‘n PowerPoint-vertoning gewys waar hulle beplan om te gaan rondvaar en hoe mooi dit langs die kanale is. Ons is gewys watter dorpies op die Engelse platteland hulle beplan om te besoek en hoe ruim en luuks die “narrow boat” eintlik is. Annelie sal deur die kuberruim met die tak in verbinding bly om hulle omswerwinge en ervarings met die lede te deel. ‘n Groot eer val Annelie ook ten beurt terwyl sy haar in Engeland bevind. Sy sal, nadat sy ‘n voorbarige (haar woorde) versoek gerig het, op 5 Oktober agter die Salisbury Katedraal in Wiltshire se Willis-orrel inskuif vir ‘n uitvoering van liedere, psalms en gesange wat haar na aan die hart lê. Sien haar vertelling oor die beplande gebeurtenis op haar Facebook-bladsy.

 

Nadat ons gesien het hoe mooi die Engelse platteland is en wat Annelie-hulle alles beplan om te ervaar, en Riaan ons wys gemaak het oor ons geldsake, het die dames nie geweet of hulle eerste Riaan se hulp moet gaan soek en of hulle maar eerder ‘n visum moet gaan kry om saam te gaan Engeland toe nie.

 

Lucinda Jansen van Rensburg is ‘n lid van die internasionale Artikel 21 nie-winsgewende Maatskappy teen Mensehandel. Sy het geleentheid gekry om die dames meer te vertel oor mensehandel wêreldwyd en meer spesifiek in Port Elizabeth. Sekere voorstede in die stad is geil teelaarde vir die smokkelaars. Net omdat ons nie direk daardeur geraak word nie, beteken dit nie dat hierdie vorm van slawerny nie op ons voorstoepe gebeur nie.

 

Lucinda & Kwakkie

 

   

 

Mensehandel is geen ligtelike saak nie. Dit is ‘n industrie wat wêreldwyd vinniger as enige ander kriminele bedryf groei. Sowat 250 000 mense in Suid-Afrika alleen, is vasgevang in hierdie onmenslike vorm van moderne slawerny. Daar is elke 30 sekondes iemand in die wêreld wat prooi val tot hierdie afstoorlike misdaad, wat uitsluitlik uitbuiting ten doel het. Suid-Afrikaners word vir dwangarbeid en prostitusie gebruik en veral na Europa en die Midde-Ooste gesmokkel.

 

Sy gee ook inligting oor die maatskappy se Walk for Freedom, ‘n staptog wat op 14 Oktober in meer as 40 lande regoor die wêreld gedoen sal word.

 

Die tafels was getooi met finansiële tydskrifte en geldnote. Nagemaakte geld, natuurlik. Funksie-gunsies was sjokolade muntstukke. Kwakkie, getooi in ‘n prettige en kleurvolle Lente-uitrusting, het die aand lekker gemaklik in haar eie leunstoel deurgebring. Kwakkie se ontwerper, Hannelie Low, doen groot moeite om Kwakkie se uitrustings by die tema of geleentheid te laat pas. Acqua se gelukbringer is geen (gewone) aap nie. Sy’s ‘n meisie wat enige dag op haar baadjie getakseer kan word.

 

   

 

Soos alle vergaderings die afgelope jaar het ook hierdie portefeulje ‘n VLV-waardige aand aangebied.

Post a comment

14 + 7 =