Besoek aan fabriek en restaurant

 

Besoek aan fabriek en restaurant

Posted by VLV in Aberdeen Tak, News 07 Sep 2017

 

Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Landbou & Tuinbou, Leefstyl, Openbare Sake

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 6 September 2017

 

Aberdeen VLV Besoek Montego en The Muller House

 

Na ‘n lang breuk vir die wintervakansie en jagseisoen het Aberdeen VLV op 6 September 2017 op ‘n hoë noot afgeskop met ‘n besoek aan Montego se fabriek op Graaff-Reinet.

 

Wilfred van der Merwe van Montego ontvang lede vriendelik en gee ‘n oorsig oor die geskiedenis en werking van die fabriek sedert sy ontstaan 17 jaar gelede.  Aspekte wat toegelig word is die navolging van streng veiligheids- en higiëne-standaarde, die gebruik van hoë kwaliteit insetprodukte en ook die wêreldklas tegnologie wat gebruik word.  Van der Merwe vertel verder dat Montego daaraan glo om die beste mense aan te stel, goeie salarisse te betaal en goed na personeel om te sien en in hulle te investeer.  Die kombinasie van al hierdie aspekte, tesame met bestuur wat betrokke is en enige probleme onmidellik aanspreek, verseker Montego se sukses.  Die maatskappy het in 17 jaar gegroei van produksie van 60t per maand tot vandag se 280t per dag, sowel as uitvoere na 21 lande.  Montego belê ook in die wyer gemeenskap van Graaff-Reinet met die skenk van ruim borgskappe.

 

Na afloop van die praatjie word VLV lede elk toegerus met ‘n wit jassie, oorpluisies en haarnette vir ‘n toer deur die fabriek.  Verskillende werkstasies en prosesse word uitgewys en verduidelik.

 

Agter vlnr : Suzanne Lategan, Annalie Lategan, Carina Esterhuizen, Elise Steynberg, Lize de Jager, Heidi Lombard

Voor vlnr: Elna van Niekerk, Lea van der Vyver, Amey Crouse

 

Om die leersame oggend af te sluit, verskuif die groep na die nuwe The Muller House restaurant waar ‘n heerlike middagete buite onder die bome geniet word.  Aangesien dit meeste lede se eerste besoek aan The Muller House was, is die pragtige restourasiewerk wat binne en buite gedoen is, bewonder.

 

 

 

 

Post a comment

eighteen − fifteen =