Sirkel: Middelland
Tak: Alexandria
Beriggewer: Erentia Hendriksz
Datum: 20 Maart 2025
Vroeë Opsporing Vir Almal
Die beste geskenk wat jy vir jou geliefdes kan gee, is jou gesondheid-Joyce Meyer
Toeval of bestem? Na ‘n paar skuiwe in die jaarprogram agv die Paasnaweek is Gesondheid se aanbieding met ‘n maand vervroeg. Maar soos alles in die lewe werk dit ten goede uit. 8 Maart was Internasionale Vrouedag en Portfeulje Gesondheid het die geleentheid aangegryp om die lede toe te spreek oor ‘n onderwerp wat ons almal baie na aan die hart lê -Borskanker.
Gesondheid se heel nuutste lid, Hester Venter, het die praatjie gelei en die lede bekend gestel aan ‘n apparaat wat nog baie lewens gaan raak. Hester Venter, oud-inwoner van Cradock, behaal haar MCur Graad in Psigiatriese Verpleegkunde aan die Universiteit van Port Elizabeth, na haar aftrede verhuis sy na Bokknesstrand en het besluit stilsit is beslis nie vir haar nie, met haar kennis as verpleegkundige is sy weereens reg om ‘n verskil in mense se lewens te maak.
Die statistieke wat Hester noem rondom borskanker het die lede laat regop sit. Elke 1 uit 19 vroue word gediagnoseer met borskanker, Blank en Indiër vroue se kans op borskanker is hoër as ander etniese groepe. Sy beklemtoon dat vroue hul borste moet leer ken, want nie elke knop wat jy voel is kwaadaardig nie. Vroeë opsporing deur gereelde selfondersoeke, mammogramme en die bewusmaking van potensiële simptome kan die behandeling en oorlewing drasties beinvloed. Mammogramme is ongelukkig ‘n duur uitgawe wat nie altyd deur die mediese fondse gedek word nie en daar is ook dames wat nie die luuksheid van ‘n fonds het nie. Ook die toeganklikheid vir mammogramme in die platteland is ‘n probleem. Met dit in gedagte het Hester vir haar die iBreastExam toestel aangeskaf en die lede was aangenaam verras met die tegnologie in die klein, maar kragtige toestel.
Die iBreastExam is ‘n hand toestel wat Gesondheidswerkers die geleentheid bied om abnormaliteit in borste te kan opspoor, pynloos en sonder enige bestraling. Die iBreastExam is ‘n bekostigbare alternatief, maar nie ‘n vervanging van ‘n mammogram nie. Die toestel word gekoppel aan ‘n rekenaar/skootrekenaar of self ‘n selfoon en stel die gesondheidswerker in staat om die bors te ondersoek dmv ‘n “grid” of teelpatroon. As daar enige abnormaliteit is sal die teeltjie met ‘n rooi kolletjie gemerk word en die pasiënt sal verwys word vir ‘n mammogram. Die toestel is ideaal vir roetine sifting.
Die iBreastExam word deur verskeie Internasionale Instansies en rade herken en het al verskeie toekennings ontvang. Hester bied hierdie diens teen ‘n baie bekostigbare bedrag aan en omdat die toestel so liggewig en maklik hanteerbaar is kan sy self huisbesoeke doen. VLV Alexandria is baie bevoorreg om Hester Venter in ons midde te hê.
