Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Beriggewer: Hannetjie Cordier
Foto’s: Mathilda Botha en Elize Locke
Datum: 28 Oktober 2025
VLV Voëlvlei se afsluiting is vanjaar vir ‘n tweede keer by Bon Game onder die drie brûe oor die Gouritsrivier gehou. Die restaurant se tafels was vrolik gedek en die dames het van die intrapslag af met groot opgewondenheid gesels en gekuier. Die lede is deur Andrieshia Radyn verwelkom, waarna Aletta Janse van Rensburg die byeenkoms geopen het.

Vlnr Aletta Janse van Rensburg, Joria Pienaar, Kobie de Bruin, Elmarie Engelbrecht, Lynni Schutte en voor Ronel Laubcher

Aletta Janse van Rensburg
Voëlvlei se ysbreker-koningin, Elmarie Engelbrecht, het saam met Ronel Laubcher die dames in ses groepe ingedeel om aan ‘n prettige skattejag deel te neem. Die dames se gelag en gegil het oor Bon Game se werf weerklink terwyl hulle die leidrade vir die opdragte ontsyfer het. Dit was mooi om te sien hoe die tema, Ons Krag lê in Spanwerk, duidelik uitgeleef is terwyl die dames wat moeilik loop deur hulle spanmaats ondersteun is en hoe almal koppe bymekaar gesit het om die kriptiese leidrade te ontsyfer. Die dames moes onder andere in die kapelletjie ‘n video gaan maak. Die leidraad hiervoor was “Here comes the bride”. Hulle moes ook die padda wat gaan opsit opspoor en inkleur. Aan die einde van die skattejag moes die groepe hul laaste leidraad sing. Die onderskeie groepe het Spieëltjie spieëltjie, Wielie Walie en O brandewyn laat my staan uit volle bors gesing.

Ronel Laubcher en Elmarie Engelbrecht

vlnr Sarie Coetsee, Aletta Janse van Rensburg, Anne-marie Stander, Brenda van Schalkwyk

vlnr Mathilda Botha, Nicoleen le Roux, Andrieshia Radyn, Sandra Nolte

vlnr Lynni Schutte, Linzetta Smit, Marlene Lucas, Johlene Muller, Betsie Muller, Corien Taljaart
Dames wat elke byeenkoms getrou bygewoon het, is met ‘n spesiale teelepel beloon, en die dames wat Voëlvlei se wiele laat aanhou rol, is met pragtige Wonky Ware-bakkies vol heerlike sjokolade bedank vir hulle bydraes. diegene wat tyd in die kombuis by die Cooper-veilingskrale deurgebring het, is met ‘n verrasingskoevertjie bederf.

100% vlnr Chrisilda J v Rensburg, Ria Fourie, Ada Gericke, Nicolene le Roux, Marlene Lucas, Andrieshia Radyn, Ronel Laubcher, Elize Locke, Anna-Marie vd Merwe, Brenda v Schalkwyk
Betsie Muller het haar 40 jaar-kenteken ontvang, terwyl Ada Gericke en Veronica van Rooijen se 10 jaar-kentekens aan hulle oorhandig is.

Elize Locke en Betsie Muller
Ada Gericke het ook ‘n geskenkbewys ontvang vir die meeste punte, asook die meeste inskrywings gedurende 2025. Andrieshia Radyn was tweede en Anne-Marie van der Merwe was derde. Dit wil lyk asof jou naam met ‘n “A” moet begin om een van die gesogte toekennings aan die einde van ‘n jaar te ontvang!

Agter: Andrieshia Radyn, voor: Ada Gericke en Anna-Marie van der Merwe
Johlene Muller het Chrisilda Janse van Rensburg vir 38 jaar se harde werk as penningmeester bedank en haar met die Spreuke-vrou vergelyk. Chrisilda verdien ‘n blaaskans.

Chrisilda Janse van Rensburg en Johlene Muller
Nadat Sandra Nolte die bedankings gedoen het, het Elmarie Neethling die tafelgebed gedoen. Daarna is ‘n heerlike middagete, voorberei deur chef RenéWolmarans, voorgesit met ‘n Suurlemoen kaaskoek jogurt panna cotta met rooibosjel pêrels en heuningkoek (meer as net ‘n mondvol) as nagereg. Voorwaar ‘n gepaste bederf aan die einde van ‘n vrolike gekuier!