Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel:             SWD

Tak:                 Voëlvlei

Portefeulje:    Openbare Sake

Saamroeper: Elmarie Neethling

Portefeulje:    Elmarie Neethling

Datum:           22 Julie 2025

Dames van Voëlvlei het behoorlik energie gekry uit die kafeїene van cappuccino’s, cortado’s en americano’s en het die hele vergadering in heerlike gees verloop.

Jannie Pretorius van Fire Roasted Coffee by Aloe Ferox in Albertinia, het kom vertoon hoekom hy so ‘n gerekende barista is. Die tema vir die dag was Openbare Sake en veral entrepreneurskap. Jannie het van kleins af reeds in sy pa se winkel begin wys hoekom hy so ‘n suksesvolle besigheidsman gaan wees. Hy was altyd geïnteresseerd in koffie en het by hul huis, as student op kampus en deur baristakursusse sy breë kennis bekom en beoefen.

Dit was vir die dames baie interessant om te hoor wat hul koffiesmaak vertel van hul persoonlikhede. Liefhebbers van Americano is gedrewe mense, dié wat Latté kies, is sagte mense, Espressoliefhebbers is doelgerig en hou van uitdagings en Cappuccino-drinkers is sosiale vlinders. Dit vertel dus hoekom die Voëlvlei-vergadering so vrolik was, want die meerderheid het Cappuccino’s verkies!

Jannie het vertel dat koffiebyeenkomste hul oorsprong in Konstantinopel gehad het in die tyd dat dit ‘n hoofsaaklik Mosemland was. Toe die Rooms Katolieke regering oorgeneem het, moes die pous besluit of hulle dié “devil’s drink” gaan verban of nie. Sy antwoord was: “It is so delicious, we should rather baptize it.”

Koffiebyeenkomste in koffiewinkels was om vier redes gewild; vir geselligheid, om konflik op te los, om nuus te versprei, om kerkgangers wakker te kry (toe die monnike koffie vóór die dienste uitgedeel het) en om akademies saam te ‘swot’ en saam met die professors die werk te bespreek. (In Europa is hierdie byeenkomste “open universities” gedoop.) Vandag ken die hele wêreld dit as “coffee shops”.

Die gesondheids- en ekonomiese voordele van koffie en die maniere om koffie te rooster is ook deur Jannie aangeraak.

Voorwaar ‘n gesellige byeenkoms!

Jannie Pretorius (Spreker) en Truhan Pretorius

Elmarie Neethling (Sameroeper), Rika, Louisa, Truhan, Mia, Jannie en Alisa Pretorius

Christina (besoeker) en Lynni Schutte