Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel:              SWD

Tak:                 Voëlvlei

Portefeulje:   Landbou en Tuinbou

Beriggewer: Hannetjie Cordier

Datum:          30 September 2025

VLV Voëlvlei se dames besoek Jireh Kaasfabriek in Riversdal

Op 23 September 2025 het ‘n vrolike groep van 27 vroue (asook een man) van die Voëlvlei-tak van die VLV die voorreg gehad om Jireh Foods se kaasfabriek in Riversdal, sowel die onderneming se verpakkingsaanleg buite die dorp direk langs die N2, te besoek.

Die dames het sommer vroeg-vroeg by die uitdraaipad na die verpakkingsaanleg bymekaargekom. By die aanleg is hulle ingewag deur Piet Willemse, een van die identiese tweeling aan die stuur van sake by Jireh. Hier het Piet meer inligting gegee oor die begin van die besigheid en verduidelik wat die naam Jireh beteken. Die tweelingbroers, wie se pa en oupa ook in die Hessequa-streek geboer het, het van die begin af hulle totale plaas en besigheid in die hande van God geplaas. Die naam Jireh beteken dan ook “God voorsien” in Hebreeus.

Vlnr Annalene Booysens, Alida Strydom, Betsie Muller, Elize van Rooyen, Chrisilda Janse van Rensburg (Voëlvlei Vleesbaaiers)

Piet het die dames daarna deur die verpakkingsaanleg geneem en al die aspekte van die verkoeling, verpakking en verspreiding van hulle produkte verduidelik. Die fabriek vervaardig tussen 8 en 10 ton kaas per maand. Die verpakkingsaanleg het ‘n kapasiteit van 580 ton. Die blokke wat van die kaasfabiek na die verpakkingsaanleg geneem word, weeg 20 kg. Die kaas word teen lae temperature verouder om die regte smaak te ontwikkel voordat dit verpak en versend word na bekende supermarkte en kleiner handelaars in die Suid-Kaap.

Jireh vervaardig verskillende soorte kaas, waaronder cheddar, wit cheddar, gouda en mozzarella, asook cheddar met verskillende geure soos peper en rissie. Die fabriek vervaardig ook botter en room.

Die dames was baie beïndruk met die klem wat op sanitasie en higiëne geplaas word. Piet het ook genoem dat daar twee keer per jaar gesondheidstoetse op die werkers gedoen word om seker te maak dat die hoogste standaard gehandhaaf word. Jireh verskaf werk aan ongeveer 90 mense by die fabriek in Riversdal. Die onderneming glo daarin om werksgeleenthede vir mense in die plaaslike gemeenskap te skep en om hulle te help om hulle lewens te verryk.

Na die besoek aan die verpakkingsaanleg, het die dames die kaasfabriek in die dorp se nywerheidsgebied besoek. Die tenks by die fabriek hou elk 80 000 liter melk, en 150 000 liter word per dag by die fabriek verwerk. Jireh koop al die melk wat gebruik word by verskaffers aan. Slegs Jersey-melk word gebruik. Nege liter melk word verwerk om 1 kg kaas te maak. Besoekers aan die fabriek kan van die eerste verdieping af deur ‘n glasvenster uitkyk oor die werking van die fabriek, en die proses dophou waar die ervare kaasmaker, Johan Malan, toesig hou oor al die prosesse. In die fabriek word ook, nes soos in die verpakkingsaanleg, die hoogste vlakke van higiëne gehandhaaf.

Die wei wat uit die kaasmaakproses verkry word, word na die onderneming se varkboerdery (ook net buite Riversdal) geneem om die varke te voer. Op hierdie plaas is reusehokke waar 15 000 varke op ‘n slag grootgemaak word. Die varkvleis word versprei na afsetpunte tussen Kaapstad en Plettenbergbaai.

Jireh het die dames verras deur elkeen na die besoek met ‘n 400 g-blokkie kaas en ‘n 500 g-houer botter te bederf.

Daar is altyd tyd vir ‘n vinnige besoek aan ander winkels. Elize Locke en Elmarie Neethling met hul aankope.

Na die leersame besoek aan Jireh, het die dames ‘n heerlike middagete gaan eet by Trends Cafe in die dorp. Die dames het om ‘n lang tafel gesit en heerlik geklets en interessante sapkombinasies soos wortel, appel en gemmer asook beet, appel en gemmer, geniet voor die keurige geregte voorgesit is.