Sirkel: Weskus
Tak: St Helenabaai
Portefeulje: Landbou
Beriggewer: Wilna Marx
Fotograaf: Elmarie Visser
Datum: 17 Junie 2025

In ons dop, met die see op ons kop!
Saam met Tracey Whitehead die “Rescue Manager” en Talitha Noble die “Conservation Manager” van die Two Oceans Akwarium se “Turtle Conservation Centre” kruip ons vanoggend te lekker en met nuuskierigheid binne ons doppe in.
Hierdie twee dames, wat sommer ingeval het by ons “Dra die see op jou kop” uitdaging, is geroep vir hulle beroep. Met passie en kundigheid lei hulle ons die seeskilpadwêreld in.

Links: Talitha Noble Regs: Tracey Whitehead
Kan dit werklik interessant wees, kan meer as honderd mense elke oomblik daarvan geniet!!! Ja! Verseker! As jy gedink het jy weet iets oor seeskilpaaie is dit nou jou kans om jou kennis te toets!
KEN JY DIE SEESKILPAD? : 10 VINNIGE VRAE
- Hoeveel van die 7 seeskilpad spesies vind ons in ons Suid-Afrikaanse waters?
- Hoeveel uit elke 1000 seeskilpaaie wat uitbroei, groei tot volwassenheid?
- Is daar ‘n spesifieke strand waar vroulike seeskilpaaie hul eier lê?
- Hoeveel eiers word op een slag gelê?
- Wat bepaal die geslag van ‘n seeskilpad?
- Hoe lank kan ‘n seeskilpad asem ophou?
- Kom seeskilpaaie aan land om water te drink?
- Wat is die grootste bedreiging in die see vir volwasse skilpaaie?
- Kry ons seeskilpaaie hier aan ons Weskus?
- Hoe kan jy betrokke raak in die wonderlike seeskilpadwaterwêreld?
Tien vrae….. wonder jy wat die antwoorde is, of wil jy kyk of jy reg is? Lees deur die inligting, dit is werklik fassinerend.
Tracey en Talitha deel met ons hulle kennis en ervarings. Talitha vertel dat van die sewe soorte waterskilpaaie ter wêreld kom vyf in ons Suid-Afrikaanse waters voor, nl. Leatherback, Loggerhead, Green, Hawksbill, en Olive Ridley. Twee van hierdie spesies, die Leatherback en die Loggerhead, broei op die strande van noordelike KwaZulu-Natal. Die ander drie spesies (Green, Hawksbill en Olive Ridley) is nie-broeiende besoekers aan Suid-Afrikaanse waters.

Talitha aan die woord
Slegs 1 tot 2 waterskilpadjies wat gebore word groei tot volwassenheid. Die hoeveelheid eiers wat vroulike waterskilpaaie lê, verskil van spesie tot spesie. Die gemiddeld is tussen 80 tot 100 in een nes. Die mammas kan met een broeiseisoen, meer as een groep eiers lê. Wat amper ongelooflik is, is dat elke vroulike seeskilpad terugkeer na die strand waar sy uitgebroei het, om daar haar eiers te lê.
Wat sou dan die geslag van die skilpadjies bepaal? Gaan “Google” gerus as dit wat jy nou lees vir jou heeltemal ongelooflik klink. Die temperatuur van die sand waarin die eiers gelê is, bepaal die geslag. Ja, diep onder waar dit koud is, daar broei die mannetjies uit, en bo in die warmer sand broei die wyfies uit.
Tracey vertel dat hierdie waterdiere hulle asem vir ‘n paar uur lank kan ophou terwyl hulle in die oseaan rondswem. Hulle drink dan ook sommer seewater. Die wonderlikste is dat die skilpaaie die sout “uithuil”. Hulle het kliere naby hulle oë wat die soutoplossing uitskei.

Tracey aan die gesels.
Plastiek, stukke visnet en bote vertel Tracey, is die grootste oorsaak van dood en beserings aan seeskilpaaie. Die afgelope 17 jaar is 13 skilpaaie hier aan die Weskus gered. Hulle is o.a. gered by Grotto Bay, Yzerfontein, Trekoskraal, Paternoster, Saldanhabaai, Lambertsbaai,16 Mylstrand en hier in St Helenabaai. Sy noem die redes vir skilpaaie hier by ons. Skilpaaie gebruik die geologie om te navigeer, riviermondings vir kos en hier is ook areas met warmer water waarvan hulle hou.
Na al die inligting wil elkeen wat hier lees seker betrokke raak. Raak betrokke deur ‘n twee weeklikse nuusbrief per epos te ontvang of word ‘n donateur. Volg hierdie skakel vir alle inligting rondom die “Turtle Conservation Centre”:
Tydens ons vergadering ontvang twee dames hulle diensjaarkentekens, nl. 15 Jaar: Maryna Psota en 50 Jaar: Koekie van der Merwe. Maggie Enever, ons takvoorsitter oorhandig hulle knopies

Maggie Enever, ons takvoorsitter oorhandig die knopies aan Maryna en Koekie
Die gelukstrekking word gewen deur Ina Dassen en die “Dra die see op jou kop” kompetisie word gewen deur Hannetjie Ras met Riana Pienaar van Langebaan in die tweede plek.

Wilna van Zyl oorhandig Ina se prys

Van L na R: Hannetjie Ras, Riana Pienaar, Marié Conradie (Saamroeper van Landbou) en Ina Finberg wat die wenners se pryse oorhandig het
Saam met ons gaste vanuit St Helenabaai en ook lede vanaf die Langebaan en Vredenburg VLV-takke kuier ons oor ‘n koppie warm sop en vars gebakte brood. ‘n Lekker koppie boeretroos en met ‘n soetdingetjie in die hand bou ons aan nuwe vriendskappe. Hierdie vergadering was, soos deur Marié, Saamroeper van Landbou, voor die vergadering reeds voorspel, ‘n LEKKERRRR!!!!! vergadering!

Almal kuier saam met ‘n eetdingetjie en ‘n glimlag.