Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: SWD

Tak: Oudtshoorn

Portefeulje: Gesondheid

Saamroeper: Annette Greeff

Beriggewer: Isabella Jansen vN

Collages: Isabella Jansen vN

Datum van vergadering: 20 Mei 2025

Die spreker tydens die byeenkoms was mnr. Buks Gouws. Hy is die eienaar van Klein Karoo Event Medics wat mediese dienste by byeenkomste, veral sportbyeenkomste, verskaf.

Daar word aan die lede gedemonstreer hoe om die noodnommer te skakel (112/10177) en die stappe om te volg om ‘n noodgeval aan te meld. Die wenk word gegee om die adres van die noodgeval so duidelik as moontlik te gee, aangesien die dienssentrum hierdie inligting moet herlei.

Die inhoud van ‘n noodhulptassie word ook aan die lede gegee. Hy noem dat elkeen se tassie ook individuele voorkeure sal bevat.

Voorgestelde inhoud van noodhulptassie

Die verrykingsaktiwiteite word uitgestal, naamlik maskers wat versier moes word, ‘n kintsugi-item en iets wat met kruissteek geborduur is. ‘n Kunsprojek van die gesondheidsportefeulje is ook uitgestal.

‘n Kintsugi-werkswinkel is by Rosedalia aangebied waar die lede gebreekte porselein herstel het met die Kintsugi-beginsel “genees met goud” in gedagte en om foute en onvolmaaktheid te omarm.

Petro het die kintsugi-tegniek op ‘n lamp wat geval het toegepas. Na die aanmekaarsit, is die las met goudfoelie genees.

Verrykingsaktiwiteit lamp met kintsugi

By die vorige byeenkoms het elke lid ‘n kartonmasker ontvang om te versier. Die verskeidenheid versierings het die kreatiwiteit van die lede adverteer.

Verrykingsaktiwiteit kintsugi en versierde maskers

Na die vorige byeenkoms waar Isabella (Jansen vN) en Jolene (van Wyk) kruissteke demonstreer het, is die lede versoek om ‘n item wat met kruissteek borduur is as verrykingsaktiwiteit na hierdie byeenkoms te bring. Jolene se borduuritem het demonstreer hoe om die borduurmateriaal gereed te maak voordat borduur kan word. Isabella het ‘n roos op ‘n borsspeld borduur en ‘n kaartjie gemaak wat met kruissteek versier is. Trienie het met die kruissteek ‘n interessante effek verkry.

Verrykingsaktiwiteit: kruissteek

Een van die gesondheidsportefeulje se projekte was om tydens die tweede byeenkoms van die jaar aan elke komitee ‘n deel van ‘n groter prent uit te deel. Elke lid moes dan haar deel versier en na hierdie vergadering bring waar die verskillende dele in ‘n saamwerk-collage saamgevoeg is.

Saamwerk-collage

Weer het die verskeidenheid van die byeenkoms vir elkeen se smaak voorsiening gemaak.