Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Paarl

Tak: Suider-Paarl

Potefeulje: Leefstyl

Saamroeper: Joanie Kingwill

Beriggewer: Gonny du Plessis

Datum: 19 Maart 2025

‘n Duursame, waardevolle leefstyl

Die Suider-Paarl-tak het Woensdag ‘n baie interessante vergadering gehad met 17 lede en 11 gaste.

Die spreker van die oggend was Me Anneke van As, bestuurder van die Viljoens Juwelierswinkel op Val de Vie, Paarl. Die eienaar, mnr Howie Viljoen, het haar vergesel en heelwat belangrike toevoegings gemaak tot haar praatjie. Daar was ook uitstalkaste met mooi ontwerpe van juwele.

Sy het hoofsaaklik gepraat oor die waarde, die sentiment en die behoud van juweliersware.

Die waarde van juweliersware, veral wanneer dit ge-erf word, asook die sentiment moet met respek behandel word. Moet ook nie die ontwerp sommar net verander sonder om inligting daaroor te kry,want dit kan ook die waarde van die stuk bepaal.

Juweliersware het baie duur geword agv die goudprys. Die Krugermunt wat in die begin R25 werd was, is tans R54 000.00 werd. Suiwer goud is 18 karaat en is beter om aan te skaf want dit is duursamer en sal langer hou en mooi bly.

Om juwele mooi skoon te hou is water en seep (sunlight liquid) baie goed en dit kan ook gepoleer word met spesiale lappies wat by juwelierswinkels te koop is. Laat dit gereeld skoonmaak en nagaan, veral vir die kloutjies van diamante. Pasop vir parfuum en vetterigheid by juwele, dit rig skade aan.

Daar is twee soorte pêrels, see pêrels en varswater pêrels. Albei is duur en waardevol. Pêrels moet gereeld gedra word anders droog dit uit.

Juweliersware behoort elke twee jaar gewaardeer te word aangesien die waardasie slegs twee jaar geldig is.

Die item vir die oggend was weer iets om die Afikaanse Taal te eer. Die gedig, “Rietfontein” deur I D Du Plessis is as ‘n tablo opgevoer. Die lede was die figure en is afgerig deur Marie Hammann, ook ‘n lid. Hoewel ‘n treurige verhaal was dit baie komies.

Vlnr: me Anneke van As, spreker, mev Joanie Kingwill, saamroeper, en mnr Howie Viljoen, eienaar van Viljoen Juweliers.

Mev Marie Hammann lees die gedig voor.

Mev Berta Spangenberg stel die reier voor in die gedig.

Vlnr: Berta Spangenberg, die twee Kingwill susters swaai die wilgertakke en me Annie D van Schalkwyk stel die maan voor.