Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Overberg

Tak: Bredasdorp

Saamroeper: Anne-Marie Burger – Landbou en Tuinbou

Beriggewer: Anne-Marie Burger

Datum: 6 Mei 2025

Op 6 Mei 2025, het die dames van die VLV Bredasdorp tak byeen gekom op Jon Daames se plaas, 7 Uile, om meer as een ding te vier.

Aangesien dit die ideale plek en geleentheid was het ons dames met hul tekkies, stapskoene en sneakers opgedaag en hul staptog voltooi as deel van die Women Walk the World gebeurtenis wat op 29 April 2025 plaasgevind het. Nee, hulle het nie vir 8 dae gestap nie, maar in verdediging, moet ek klem lê daarop, dat alles in die Kaap so effe agter en selfs stadiger kan wees as in die res van die wêreld. En, ons het ons deelname met spoggerige, opgedolliede, ge-pazazzde tekkies/stapskoene of ook bekend as sneakers, aangedurf, en klaargemaak. Die dames het die pragtigste versierings op hul tekkies aangebring. Blomme, strikke, knope, blinkers, lint en selfs gehekelde katjies in helder kleure, was noukeurig in VLV styl en perfeksie op hul tekkies aangebring. Daar was twee pryse uitgegee vir die oorspronklikste tekkies, maar as ek eerlik moet wees, moes elkeen van hierdie tekkiekunstenaars ‘n prys ontvang.

Pierre Vlok van BKB het na afloop van die staptog ons vergadering geopen met ‘n pragtige skriflesing en gebed. Madie Heyns van Luv4Pets in Struisbaai, het met ons kom praat oor die uitdagings en die wonderlike werk wat deur hierdie organisasie verrig word. Hulle sien om na siek, beseerde en verwaarloosde troeteldiere in ons gemeenskap. Diere word gestreriliseer en ingeënt asook behandel vir vlooie, bosluise en ander pestilensies, met fondse wat Luv4Pets insamel deur die verkoop van tweedehandse boeke, en skenkings.

Pierre Vlok het met ons gesels oor dit wat hy oor die jare van diere geleer het, wat ook van toepassing is, op ons as mens. Dit het so ‘n groot impak op om dames gelaat dat hulle versoek het dat hy sy aanbieding met ons sal deel. Wat hy inderdaad toe gedoen het. Miskien is dit van pas om net een van hierdie waarhede uit te lig. Hy het gewaarsku om nie aan die rante van die lewe te leef nie, maar om op die middeweg te bly. Want soos ‘n staanhorlosie se gewigte heen en weer swaai, gaan dit twee keer deur die middel. En hierdie middel gee jou kans om twee keer meer van die lewe te kry, waar jy miskien op die rant van die lewe net een keer geraak gaan word.

Elbé, ons Sirkel President van die Overberg het aan ons terugvoer gegee na afloop die Sirkelkonferensie wat hier op 19 Maart 2025 in Bredasdorp by Antoinette Events plaasgevind het. Daar is kritiek en komplimente na afloop van die konferensie, wat help om dit net beter te maak vir die volgende tak, of geleentheid wat deur ons aangebied moet word. Die enigste faktor waarvoor daar geen oplossing of raad is nie, is dat die konferensie geval het op die warmste dag van die jaar. In retrospek, was dit seker die natuur se aanbieding van die realiteit wat ons in die gesig staar met betrekking tot klimaatsverandering en aardverwarming. Sy het ook terugvoer gegee na aanleiding van die inligtingsdag wat op die 23ste April 2025 in Hermanus plaasgevind het. Klem is geplaas op die noodsaaklikheid om die vereistes in die Huis en Haard t.o.v. die artikels en ander kompetisies, in Engels sowel as in Afrikaans te lees, sodat onduidelikheid sover moontlik uitgeskakel kan word.

Die vergadering is verdaag. Daar is heerlik gekuier, geëet en gedrink. Nuwe vriendskappe is gemaak, en bestaandes versterk en verdiep. Vrouwees en menswees is gevier soos net ons dit kan doen.  Viva VLV! Viva