Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Sirkel: Middelland

Tak: Alexandria

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

Sameroeper: Anlouise O’Connell

Beriggewer: Erentia Hendriksz

Datum: 17 April 2025

Tydens die onlangse VLV Alexandria-ledesameskoms het Marlene Basson, Sirkel Bemarker van VLV Middeland en Streeksorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand ‘n baie insiggewende praatjie gelewer oor die ontwikkeling van Kunsmatige Intelligensie (KI) en die impak daarvan op ons daaglikse lewens.

Marlene het die dames op ‘n baie toepaslike manier ingelei in die wêreld van KI deur die film “The Polar Express” as ‘n treffende voorbeeld te gebruik om die evolusie van KI en digitale animasie te illustreer. In die film is die Amerikaanse akteur Tom Hanks se gesigsuitdrukkings en bewegings deur rekenaartegnologie vasgevang – iets wat destyds baanbrekerswerk was. Hierdie tegniek, bekend as *motion capture*, het daartoe gelei dat karakters realisties vertoon het.

Marlene het die vroue deur die vroeë stadiums van rekenaarintelligensie tot by die gesofistikeerde tegnologieë wat ons vandag ken gevat. Sy het benadruk dat, alhoewel KI ongelooflike moontlikhede ontsluit, dit ook met sekere nadele en risiko’s gepaard gaan en hoe tegnologie soms so na aan menslikheid kom, maar tog iets ontbreek wat dit werklik “menslik” maak.

Daar is verseker voordele aan Kunsmatige Intelligensie nl:

* Verbeterde doeltreffendheid in gesondheidsorg, onderwys en tegnologie.

* Automatisering van roetine-take, wat tyd en geld spaar.

* KI help met data-analise en vinniger besluitneming.

Maar soos enige voordeel, kom dit met ‘n nadeel:

* Werksverliese in sekere sektore weens outomatisering.

* Etiese kwessies rakende privaatheid en beheer.

* Kubermisdaad

* Plagiaat

Maar Kunsmatige Intelligensie kan ook opwindend en behulpsaam wees en Marlene stel die dames aan ‘n paar KI toepassings (Apps) voor soos bv. Chat GPT, Co-Pilot en AI Cloud en moedig hulle aan om dit op die proef te stel. Al hoe meer werksplekke verwag deesdae van hul werknemers om in KI vaardig te wees. Marlene het haar praatjie afgesluit deur te benadruk dat dit belangrik om ingelig te bly by die tegnologiese vooruitgang en het verantwoordelike gebruik van KI aangemoedig.