Skip to main content

Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Tak: Klein Brakrivier

Sirkel: SWD

Beriggewer: Dawn Greyling

Fotograwe: Ria van Straaten, Elsabé Richards, Retha Nagel & Leola Esterhuizen

Webwerf Koördineerder

Datum: 25 Maart 2025

Myrna Jacobs – “Bemeester Hoender-ontbening”

Klein Brakrivier se Leefstyl byeenkoms word gelei deur Dawn Greyling en haar span gasvroue. Die kleur van die dag is geel en die saal is vrolik getooi met geel suurlemoene, blomme en servette. Lynette Nel open die dag op gepaste wyse.

Franci Raubenheimer (voorsitter) verwelkom die dames. Franci gee terugvoer van Groenkloof (Groot Brakrivier) se Valentyn-tee wat deur Klein-Brakrivier aangebied was. Dit was ‘n reuse sukses en ‘n soortgelyke tee word vir later in die jaar beplan vir Groenkloof (Reebok),

Terugvoer van onlangse Konferensie en uitslae word deurgegee. Klein-Brakrivier vaar goed in verskeie afdelings. Ria van Straaten kry spesiale vermelding en verdien 2 balkies vir uitstaande werk gelewer. Klein-Brakrivier word bedank vir bydraes gelewer vir Huis Loeriehof in die vorm van doeke en handdoeke.

Engela Buys verduidelik kortliks aan dames die verskillende bottels en deksels wat behoort gebruik te word vir inlê produkte.

Gelukkige trekking vind plaas. Aritha Matthews wen ‘n quiche en Susánne le Roux wen die geskenk-pakkie.

Die spreker van die dag is Myrna Jacobs. Sy is ‘n kenner op die gebied van vleis en die verwerking daarvan. Sy het verskeie boeke die lig laat sien en het ook lank by die Vleisraad gewerk. Myrna demonstreer hoe mens die hoender totaal ontbeen. Sy moedig die dames aan om met ‘n skerp mes te werk en wys ook hoe om ‘n mes skerp te maak. Myrna sny, skraap en trek aan die hoender en bene en blitsvinnig is die hoender ontbeen. Sy rol die hoender met spinasie en spek en bind dit vas. Sy verduidelik hoe en hoe lank die hoender moet bak en hoeveel porsies dit lewer. Die dames hang aan haar lippe en Myrna moet bontstaan om vrae te beantwoord. Dawn bedank Myrna op gepaste wyse. Die byeenkoms word afgesluit met heerlike eetgoed, koffie en tee. Na n heerlike kuier verdaag die byeenkoms.

‘n Werkswinkel vind plaas net na die byeenkoms. Belangstellendes word touwys gemaak om plastiese sakke te sny en daarmee te hekel. Daar gaan gepoog word om matjies vir honde te hekel.