Sirkel: Tygerberg
Tak: Helderberg
Portefeulje: Jaarafsluiting
Beriggewer: Elsa Hanekom
Datum: 12 November 2025
Die korrupte Kaapse goewerneur, Willem Adriaan van der Stel, het in 1685 ‘n stuk grond gekry wat hy Vergelegen genoem het. Hy was ‘n hardwerkende en bekwame boer en het, voor hy in Oktober 1706 na Nederland teruggestuur is, onder andere tienduisende wingerdstokke aangeplant en ook die kamferbome wat vandag nasionale monument status geniet.
Die oorspronklike landgoed is later verkoop en in vier plase verdeel. Oor die eeue het Vergelegen Landgoed verskeie eienaars gehad, maar is sedert Oktober 1987 in die besit van Anglo American.
Verskeie bekendes het oor die dekades die landgoed besoek, mense soos koningin Elizabeth en prins Phillip, die hertog van Kent, koning Charles en koningin Camilla, Sir Edmund Hillary, die Aartsbiskop van Canterbury, die koningin van Maleisië, Bill en Hilary Clinton, Nelson Mandela en Desmond Tutu, Elton John, Bono, André Agassi, Brooke Shields, Martha Stewart, om maar net ‘n paar te noem.
Maar die mees belangrikste van almal, die lede van VLV Helderberg, wie gereelde besoekers aan die Vergelegen Landgoed is, en Sirkelpresident René Nel en haar man Piet, het op 12 November 2025 Vergelegen besoek waar ons ook die “royal treatment” gekry het.
Die 18 tuine is ‘n lushof en met elke seisoen is daar iets nuuts om te ervaar. In die winter is die camellias iets besonders. Hierdie camellia-tuin is die enigste “International Camellia Garden of Excellence” in Afrika, slegs een van twee in die Suidelike Halfrond (die ander een is in Australië). In totaal is daar 39 in die wêreld. En so kan ons aangaan, o ja, moenie vergeet van die Krismisrose in Desember nie!
Maar ongelukkig is daar iets wat al ‘n tydjie pla en toe een van die lede dit noem, het Annerie Mac Donald, Ondervoorsitter van VLV Helderberg, onmiddellik daarvan werk gemaak en Vergelegen gekontak.
Die probleem, die VLVK roos, ja ons roos is in die formele roostuin, se naambordjie is beskadig. Annerie het met Vergelegen geskakel, waar sy met Richard gesels het, en dit onder sy aandag gebring. Hy het groot om verskoning gevra en ons genooi om hulle te besoek.
Met ons besoek aan die tuin stel Richard ons voor aan Marie Favard, wie heel toevallig besig was om in die tuin te werk. Hy vra haar om ons bietjie meer te vertel oor die VLVK roos. Sy noem dat sy nie voorbereid was om met ons te gesels nie. Nie te min trek sy weg met ‘n klomp feite rondom die roos.
Die VLV wou ‘n dame-vriendelike roos hê, ‘n snyroos wat geskik sou wees vir rangskikkings en ‘n roos met min dorings.
Marie noem ook dat dié roos die hele seisoen van Oktober tot Junie blom. Sy sê dit is ‘n geharde roos, maar dat swartroes wel kan voorkom. Op ‘n stadium praat sy van “we” en na die tyd vra een van die lede hoekom sê sy “we”. Wat ‘n aangename verrassing om te hoor dat sy op daardie tydstip, met die kweek van die roos, by Ludwig rose gewerk het en betrokke was by die kweek van hierdie roos. Dit was ‘n wonderlike toeval dat sy juis op daardie oomblik wat ons die tuin besoek het, in die tuin besig was!
Die rose in hierdie tuin van Vergelegen is hoofsaaklik Suid-Afrikaanse gekweekte rose en almal redelik gehard. Die rose word nie met gif gespuit nie, aangesien die blare van die rose gebruik word vir die maak van konfyt wat weer in hul restaurante gebruik word.
Na ons besoek aan die roostuin, het ons ons jaarafsluiting in die “Rose Terrace Tea Room” gehad wat langs die tuin geleë is.

VLV Kaapland roos

Die beskadigde naambordjie vroeër die jaar. Richard verseker ons al die rose in die tuin se naambordjies gaan eersdaags vervang word.

Inderdaad ‘n roos met min dorings. Twee dorings, Richard en Piet, tussen 13 rose.

Marie Favard besig om haar kennis met ons te deel.

Marie en Richard

VLV Helderberg lede saam met Marie Favard en René en Piet Nel. Elaine van Niekerk kon ongelukkig nie die dag saam met ons deurbring nie, maar ons het aan haar gedink.

Annerie Mac Donald, Ondervoorsitter (regs), oorhandig ‘n verjaarsdaggeskenk aan Charlotte Kriek, Voorsitter (links).

Die dames wat kentekens ontvang het vlnr: Jeanette Snyman (10 jaar), Marian Walls (55 jaar), Truitjie van Bosch (45 jaar), Karin Venter (50 jaar) en Elsa Rautenbach (35 jaar). Totaal van 195 jaar!

‘n “Oh” oomblik tussen Elsa Rautenbach (Saamroeper: Leefstyl) en Charlotte Kriek (Voorsitter)

‘n Geskenkie om huis toe te neem.