Sirkel: Weskus
Tak: St Helenabaai
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Wilna Marx
Fotograaf: Elmarie Visser
Datum: 14 Oktober 2025

Bewusmaking met pragtige koekies
Ons tak het hierdie afgelope jaar groot geskrik met twee van ons lede, asook ‘n derde lid se man, wat beroerte-aanvalle gehad het. Ons is saam met hulle dankbaar dat hulle genesing vlot verloop het. Ons as die Gesondheid-span het besluit om ons vergadering aan bewusmaking te wei. Ons noem dit “Drie-in-Een Bewusmaking” nl. kanker, dementia en beroerte.
Sandra Jacobs lei ons bewusmakingsveldtog in deur ‘n ysbreker met musiek en onbewustelike breinoefening.

Sandra lei die oggend in met ‘n ysbreker
Breinoefning
Eerste aan die beurt was bewusmaking van kanker. ‘n Pragtige pienk tafel waar lede kon lees oor “Hulle wat nie meer met ons is nie”, “Hulle wat steeds teen kanker veg” en “Hulle wat kanker oorwin het”. Elke lid was aangemoedig om ‘n pienk lekkertjie te eet uit die bakkie waar die volgende geskryf staan: “Take a sweet, hold a thought, whisper a name or remember a smile!”.

Kankerbewusmaking
Ten tweede is bewusmaking van die tekens, van ‘n beroerteaanval gedoen. Annaline de Beer, saamroeper van Gesondheid verduidelik die woord “FAST” aan die lede.
F: Het die persoon se gesig of mond gesak?
A: Kan die persoon beide arms lig?
S: Praat die persoon met ‘n sleeptong en onduidelik?
T: Tyd – Indien beroerte vermoed word, kry onmiddellik mediese hulp.

Fast
Derdens kom dementia aan die beurt. Dit was gedoen deur Bev Koegelenberg van die Life West Coast Private Hospitaal. Nie net kon Bev haar mediese kennis met ons deel nie, maar sy het ook haar moeder wat aan dementia gelei het, versorg. Bev deel die volgende waardevolle inligting met ons.
Waarskuwingstekens:
Die tekens verskil van mens tot mens en almal het nie noodwendig al die tekens nie, maar hier is ‘n paar waarskuwingstekens:
1. Geheueverlies ontwrig die persoon se daaglikse lewe. Die mense vergeet gewoonlik onlangse inligting, belangrike afsprake of vra dieselfde vrae oor en oor. Interessant is dat die mense alles van jare terug kan onthou maar nie dinge wat gister gebeur het nie.
2. Probleme met beplanning of oplos van probleme — by. Hulle sukkel om planne te volg, met getalle te werk en bekende probleme op te los soos by om die regte sleutel vir die voordeur te gebruik en die deur oop te kry.
3. Moeilik om bekende take te voltooi. Kan nie meer die gewone huistake doen soos om kos te maak en met bekende toestelle te werk nie.
4. Verwarring ten opsigte van tyd en plek Hulle verloor tred met datums of seisoene en ook waar hulle is.
5. Sukkel om afstand te skat, erken nie bekende gesigte nie en kan nie konsentreer om te lees nie.
6. Sukkel am ‘n gesprek te volg en om die regte woorde uit te kry.
7. Verloor goed en plaas dit in ongewone plekke bv. sleutels in die yskas.
8. Neem swak besluite, bv. om groot bedrae geld te gee aan swendelaars en ongelukkig kry mens persone wat die mense met dementia uit buit.
9. Onttrekking van werk of sosiale aktiwiteite. Hulle doen nie meer hul gunsteling stokperdjies by tuinmaak of hekel nie en kuier nie meer saam met familie en vriende nie.
10. Verandering in gedrag en persoonlikheid, bv. hulle raak maklik geïrriteerd, agterdogtig, verward en teruggetrokke. Het ook uitermatige verandering in gemoedstoestand en kan ook hul persoonlike higiëne afskeep.
Dinge wat risiko van dementia verhoog
• Ouderdom (gewoonlik bo 65)
• Hipertensie (hoë bloeddruk)
• Diabetes (hoë bloedsuiker)
• Oorgewig
• Rook
• Oormatige alkohol gebruik
• Fisies onaktief
• Depressie
Gesonde brein dieet (Brandstof vir jou brein)
Die regte dieet kan nie dementia stop nie maar dit help om die vordering te vertraag. Die regte dieet help ook om ander siektetoestande te bekamp
Die gesonde brein dieet bevat die volgende komponente:
• Blaargroentes: bv. Spinasie, blaarslaai, boerkool of krulkool.
• Bessies: Is hoog in anti-oksidante en is uitstekend vir brein gesondheid. Bv. Aarbeie, bloubessies en braambessies
• Neute: Voorsien gesonde vette, anti-oksidante en Vitamiene E wat die breinselle beskerm. Bv. Amandels, pekanneute, kasjoeneute, makadamia neute en okkerneute.
• Vis: Kouewater vis bv. salm en tuna is ryk in Omega 3 wat kan help om dementia te voorkom.
• Heelgraan: Hawermout, bruin rys, koring, gort en mielies verlaag ook risiko vir dementia.
• Groente in die kool familie: by. Brokkoli, blomkool, kool, radyse, rape en brusselse spruite gee beskermende anti-oksidante en vitamines.
• Olyfolie: Is ‘n bron van gesonde vette.
• Peulgewasse: bv. bone, lensies en grondbone is goeie bronne van vesel en proteïene wat help met glukose(suiker) beheer.
- Onthou om water te drink. Jou brein bestaan uit meer as 70% water. Vog help om die impulse te gelei.
Voedsel om te beperk of vermy:
• Suiker en verfynde koolhidrate: bv. suiker, koek, gebak, sjokolade, wit meel en wit rys kan veroorsaak dat die bloedsuiker vinnig die hoogte inskiet en die brein irriteer.
• Geprosesseerde kos: Bv. blikkieskos, polonies en geprosesseerde kase bevat baie vet en het min voedingswaarde.
• Rooivleis en botter: Moet beperk word in ‘n gesonde breindieet. Eet eerder vis of hoender.

Bev aan die woord
Maryke Pearson, die skakelbeampte van Life Hospitaal deel pamflette met inligting aan die dames uit, terwyl die dames ook hulle bloeddruk- en suikervlakke deur die studente verpleegsters van Life Hospitaal laat toets. Indien enige van die vlakke kommerwekkend was, het die betrokke dame ‘n kaartjie met die uitslag ontvang en was aangemoedig om so gou moontlik ‘n huisdokter te besoek.

Bloeddruk- en suikervlakke word getoets
René Felder bedank Bev en Maryke. Sy oorhandig aan elkeen ‘n inkopiesak gedruk met VLV St Helenabaai se embleem en gevul met tipiese VLV bederfies.

Maryke Pearson, René Felder en Bev Koegelenberg
So met gesondheid en gesond leef, staan almal nader vir heerlike gesonde eetgoed. Rooikoolslaai, vrugte, gevulde groente en dan ook geproe aan tuisgemaakte kase sonder enige preserveermiddels.

Heerlike gesonde eetgoed!