SIRKEL: WESKUS
TAK: AURORA
Onderwerp: Ons groet ’n Spreuke 31-Vrou
Rae (Rachel Vaughn) Smit
22 Junie 1941 – 18 Julie 2025
BERIGGEWER: MARINDA VAN WYK
DATUM VAN GELEENTHEID: 18 Julie 2025
Aurora-Tak groet ’n formidabele vrou en jarelange Voorsitter van ons tak.
Rae was ‘n uitsonderlike vrou, wat haar lewe daaraan gewy het om haar gemeenskap te dien.
Sy was ’n stigterslid van Aurora-VLV-tak in 1979, en behalwe vir ’n paar jaar hier en daar, deurlopend Voorsitter van Aurora-tak vir bykans 45 jaar, tot 2024, toe sy besluit het om op 83-jarige ouderdom af te skaal.
Rae was ’n stukkie dinamiet in ’n klein pakkie, ’n Spreuke 31-vrou, ’n knap vrou, meer werd was as edelstene, iemand op wie haar man, die VLV, skou en kerk kon staatmaak, wat haar werk met krag aangepak het, wie se hande altyd besig gebly het. Alles aan haar het gespreek van ‘n sterk en edel persoonlikheid. As sy gepraat, was dit met wysheid as sy leiding gegee het was dit met liefde. Lui was sy nie. Min van ons jongeres kon by Rae kers vashou. Niks was vir haar te veel moeite nie.
Rae was nie net by VLV betrokke nie, maar ook vir jare by Aurora se skou en by die kerk; sy was gelyktydig ouderlingsvrou, skou-komiteelid en VLV-Voorsitter, geen maklike taak nie. En alles het sy moeiteloos op haar stil manier gedoen.
Haar ervaring, kennis en vaardighede van VLV-aangeleenthede is ongeëwenaard en sy laat ’n groot leemte. Van ons VLV-lede onthou haar in liefde:
Beatrix Kotze vertel: “Vir my was Rae ’n vrou van uitnemendheid en sy sal vir my altyd lewe. Toe sy in Januarie 1963 by Hoërskool Aurora instap, sou niemand kon raai watter verstommende invloed hierdie vrou op die Sandveld sou hê nie. Sy was die hart van dié vereniging tot 2024 toe sy die tuig as Voorsitter neergelê het, ’n posisie wat sy ook die meeste van die tyd beklee het. Haar hande het nie geskrik vir bakdag en slagdag nie en ook nie vir die fynste doilie-hekelwerk vir VLV-kompetisies nie. Die vroue van ander takke in ons VLV- sirkel en die VLV-Kaapland het vir Rae geken, gerespekteer en vertrou.”
Rae, daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal. Jy verdien om geprys te word.
Ons gee jou die eer wat jou toekom vir alles wat jy vir die VLV gedoen en beteken het. Jou werk sal altyd jou roem en nalatenskap bly. Jou kennis, vaardighede en leiding laat ’n groot leemte. Rus Sag liewe Rae.

Rae voor die kospotte vir VLV

Voorsitter vir bykans 45 jaar.

Geliefd by almal

’n Bok vir sports

Stigterslede Aurora-Tak 1979

Dankie Rae

In Memoriam