Foto’s is ook voetspore

 

Foto’s is ook voetspore

Posted by VLV in Kleinmond Tak, News 11 Jun 2019

Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Kunste&Handvlyt

Datum: 28 Mei 2019

Beriggewer: Hermien Van Zyl

 

                               “ LAAT ‘N VOETSPOOR MET FOTO’S ”

 

Dit was die gedagte wat ds. Jannie Hougaard, gasspreker by die VLV-tak van Kleinmond se Kunste&Handvlyt-vergadering gelaat het tydens sy praatjie oor fotografie. “Jy vang ‘n oomblik of ‘n gebeurtenis vas wat kosbaar is en later herleef en met ander gedeel kan word.” Hy gee waardevolle wenke vir foto’s wat óf met ‘n gewone kamera óf met ‘n selfoon geneem kan word. Die voordeel van ‘n selfoon is dat jy dit altyd by jou het.

 

  1. Kyk na die komposisie van die foto, m.a.w. of elke ding op sy plek is. Verskuif self, beweeg ‘n paar tree, om dit reg te kry dat daar voorgrond, middel- en agtergrond is.
  2. Haal steurende elemente soos telefoondrade of vlieënde voëls uit.
  3. Onthou die reël van derdes. Dit lei die oog na interessanthede.
  4. Probeer ‘n “raam” vind, iets soos ‘n boomtak wat die onderwerp omgrens.
  5. Kyk dat die foto in fokus is, of skerp fokus het, tensy die voor- of agtergrond doelbewus uit fokus moet wees. Vat dooierus of gebruik ‘n driepoot om lyfbeweging of bewerigheid te stuit.
  6. Kyk dat beligting reg is.
  7. Belangrikste is KEN JOU KAMERA! Gaan lees die handleiding.
  8. En deel jou foto’s met ander, want dan deel jy ervarings.

 

 

 

 

 

 

 

 

Ds Jannie Hougaard word deur Hendriëtte Cruywagen bedank vir sy praatjie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hermien van Zyl het kortliks aan die hand van ‘n foto-album wat sy saamgestel het, verslag gedoen van die onlangse Konferensie van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue  wat sy vanaf 3 – 11 April in Melbourne, Australië bygewoon het. Daarná het sy die lootjietrekking waargeneem van die wenner van ‘n geskenkpakkie wat sy saamgestel het van artikels soos vatlappies, tissuehouers, gebreide koalas en ander artikels wat sy in Melbourne by die stalletjies van die Aussie “VLV’-lede gekoop het.

 

 

 

 

 

 

 

 

Foto 2: Hermien van Zyl vertoon vir die lede die lang serpe met elke vereniging se kenteken wat deur die Suid-Afrikaanse groep afgevaardigdes by Wêreldbond se Konferensie in Melbourne gedra is.

 

 

 

 

 

 

Charlotte Potgieter, begaafde plaaslike pianis het ‘n Nocturne van Chopin uit sy Romantiese Tydperk gespeel en dit het groot byval by die gehoor gevind.

 

Kunste & Handvlyt gee aandag aan die mooi dinge van die lewe. Tydens teetyd kon die lede en gaste ook, behalwe die foto-album, kyk na foto’s wat die “Kleurvolheid van Herfs” uitbeeld, kunstige klein blommerangskikkings op ‘n ontbytskinkbord vir Vadersdag bewonder asook die groter saalrangskikkings waarmee Kathleen Joubert die verhoog en teetafel versier het.

 

Kathleen Joubert by een van haar treffende verhoograngskikkings.

 

Daphne Loots se wenrangskikking vir Vadersdag se ontbytskinkbord.

 

Charlotte Potgieter(links), die gaskunstenaar saam met Cobus Conradie, blommebeoordelaar en Cecile Jonkheid, voorsitter.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die “Kleurvolheid van Herfs”

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Frieda Maree neem ‘n lootjie uit vir die geskenkpakkie uit Melbourne.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Annie Jooste, saamroeper van Kunste&Handvlyt, het geskenkies aan die verjaarsdagdames oorhandig. Hier is sy, derde van links, saam met van die dames.

V.l.n.r. Sylvia Coetzee, Anne Meershoek, Annie, Susan Marais voor en Gerda Harding agter en Elizette Bosman.

 

Post a comment