Tak: Aberdeen
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Lea van der Vyver
Datum: 19 Maart 2025
Aberdeen Klik, Skep en Koester…
Kunste en Handvlyt is aan die beurt met Aberdeen se Maart vergadering.
Lea van der Vyver verwelkom almal, spesiaal vir nuwe lid Alicia van Heerden, wat ook die spreker van die dag is, en 3 gaste teenwoordig.
Groepfoto
Vlnr agter: Elise Steynberg, Sari van der Merwe, Alicia van Heerden, Lize de Jager, Lea van der Vyver, Karen van Rensburg, Alet Gouws, Hannelie van der Westhuizen, Petro Marx
Vlnr voor: Elna van Niekerk, Suzanne Lategan, Anna Herion, Margeret Horton
Fotograaf: Lizemari Jordaan.
Saamroeper Karen van Rensburg open met Psalm 23:4, wat ons verseker dat die Here met jou is in die dal van doodskaduwee wanneer dit sleg gaan met jou. As die lewe krap en seermaak, kom Jesus op Sy stil manier, raak ons aan en maak ons heel.
Elna van Niekerk en Suzanne Lategan gee terugvoer oor Sirkel Middelland se Konferensie wat die vorige week in Kariega plaasgevind het. Lizemari Jordaan verower 2de plek in die fotografie kompetisie, met 90% vir haar foto getiteld “Elegansie van liefde”. Lea van der Vyver wen die trofee vir die Voorsitter met die mees uitstaande administrasie.
Lizemarie Jordaan se foto, wat met 90% die 2de plek behaal het tydens Sirkel Middelland se Konferensie.
Lea van der Vyver se trofee vir die Voorsitter met die mees uitstaande administrasie, toegeken tydens Sirkel Middelland se Konferensie.
Karen van Rensburg lees verskeie gedigte voor, o.a. een wat deur haar oorlede ma Mimi Lategan, jare-lange VLV-lid, geskryf is.
Karen van Rensburg, Kunste & Handvlyt Saamroeper, lees verskeie gedigte voor.
Fotograaf Alicia van Heerden van “Wildflower Creative” doen ‘n aanbieding getiteld “Klik, Skep, Koester”. Haar besigheid se naam is afgelei uit haar bynaam as kind, nl. “Blom” en haar gunsteling Bybelvers Luk12:27 “…consider how the wildflowers grow…”. Sy verduidelik dat fotografie is om iets met lig vas te vang om ‘n beeld te vorm.
Fotograaf Alicia van Heerden van “Wildflower Creative” tydens haar aanbieding.
KLIK: Die toerusting benodig word toegelig, vanaf kamera en lense tot by geheuekaart, rekenaar en redigeringsprogramme. Daar is verskeie tipes kameras en dit is interessant dat ‘n selfoon vandag ‘n erkende kamera is. Die verstellings wat gemaak word om die beste foto in die omstandighede te neem, word verduidelik. Die tipe foto wat geneem word, beïnvloed ook die toerusting wat jy gebruik, sowel as die verstellings wat nodig is.
SKEP: Nadat foto’s geneem is, kies die fotograaf die beste foto’s en redigeer dit. Alicia hou daarvan om die foto so natuurlik as moontlik te hou en sagte lig te gebruik – sy spesialiseer daarin om mense af te neem. Foto’s word in “rou” formaat geneem, wat die digitale negatief van die foto verteenwoordig. Die foto word dan met redigering verstel en in ‘n bruikbare formaat, bv. “JPEG”, gestoor om aan die kliënt te gee.
KOESTER: Fotografie is belangrik vir verskeie redes – dit bewaar herhinneringe, gee kreatiewe uitdrukking en bewaar geskiedenis. Verder word dit gebruik om reise, eiendomme of artikels vir bemarking af te neem. Kortom verryk dit ons lewens.
Karen van Rensburg, Kunste & Handvlyt Saamroeper, bedank Alicia van Heerden (regs) vir haar professionele aanbieding.
Elise Steynberg wen die gelukkige trekking van die dag en 7 lede word gelukgewens met hul verjaarsdae in Maart. Die dag word afgesluit met gesellige samesyn en heerlike eetgoed voorsien deur Elise Steynberg en Elna van Niekerk.
Vrolike tafelversiering
Teetafel met smullekker eetgoed.