Sirkelpresident = Irma Davel SIRKEL NOK

Verslaggewer = Antoinette van Pletzen

Tema = Kleur jou Lewe / Colour your Life

Fotograaf = Sarah Britz van Sterkstroom

Datum = 15 Maart 2025

VLV NOORDOOS-KAAP HOU KONFERENSIE TE STERKSTROOM

 

NOK se 93ste Konferensie was soos altyd, ‘n fees! Sterkstroom het behoorlik uitgehang, en almal teenwoordig het hul kant gebring om vrolik te wees en deel te neem. Sirkelpresident Irma Davel het by dié geleentheid uitgetree en Adele Richardson van Sterkstroom is in haar plek aangewys.

Die hele konferensie het gedraai om die VLVK se tema “Kleur jou Lewe” en die geskenkies, eetgoed en kleredrag het daarby aangesluit. Sprekers het ingesluit die plaaslike Dave Osbourne van Piggeries-faam, oor die Vrou in Landbou, asook die dinamiese joernalis, Dr Johannes de Villiers van Bloemfontein, oor Blydskap en hoe om bewustelik te lewe. Verskeie afgevaardigdes het dooprokkies uitgestal en kom vertel wat die storie agter elke rokkie is. Die kinderkoortjie van Molteno het kom sing met die 2 jongstes van ± 6 jaar oud, ‘n trekklavier keurspel is gelewer en ‘n wonderlike uitvoering deur Carlos Jika van Molteno wat verskeie liedere gesing het – van Country en Afrikaans, tot outyds en opera. Almal het hartlik deelgeneem aan ‘n lyndans, asook aan die Lekkersing VLV-lied.

Eretoekennings is gedoen aan lede wat sekere jaartal-mylpale behaal het, en Dankiesê-persone uit Sterkstroom het elkeen blomme en ‘n oorkonde ontvang. Vir die gemeenskap was dit Rose McDougall en Marieta van der Walt, terwyl Megan Moorcroft vir VLV gekry het. Sandra Prins van Sterkstroom het interessante staaltjies en die geskiedenis van Sterkstroom uitgelig, en Maranja Jordaan het van die skool se aktiwiteite en fondsinsamelings vertel.

Queenstown-tak het die ander takke almal uitgestof by die kompetisies, met Dordrecht 2de en Sterkstroom 3de.

Een besonderse kompetisie was die teetafel waarby ‘n skyf koek uit karton moes verskyn.

 

Die Sirkelbestuur. Voor staan Leefstyl-saamroeper Megan Moorcroft, Sekretaris en Saamroeper van Opvoeding & Kultuur Antoinette van Pletzen, Sirkelpres. en Kunste-saamroeper Irma Davel, Openbare Sake-saamroeper Emma Pietersen en Hulp-Sekr Adele Richardson. Agter staan Landbousaamroeper Lenie Fourie, Gesondheid-saamroeper Henna Botha, Sirkeltesourier Isabel du Toit, Leefstyl-Hulpsaamroeper Wanda Barnes en Blommesaamroeper Retha Peens.

Elke jaar oorhandig Sirkel NOK se Landbousaamroeper, Lenie Fourie, ‘n boom aan die gasvroutak se Landbousaamroeper. Vanjaar is ‘n Westringia fruticosa aan saamroeper van Sterkstroom, Rose McDougall, oorhandig om vir VLV te plant.