SIRKEL SWD

Berigskrywer, Carin Conradie

Verslaggewer, Lydie Terblanche

DATUM: 12 Maart 2025

 

SWD – SOMER, SON EN SEE….

Die VLV-Sedgefield was op Woensdag 12 Maart 2025 die gasheertak van die 91ste VLVK-Suidwestelike Distrikte se konferensie. Daar was 47 afgevaardigdes en dagbesoekers van 15 takke teenwoordig, sowel as die sirkelbestuur van SWD, beoordelaars, eregas Trienie Barnard en sprekers.

Die VLVK-tema van 2025 is Kleur jou lewe. Sedgefield het daarom die saal met ‘n reënboog van see-kleure getooi. Die besoekers het die saal binnegestap en behoorlik gevoel asof hulle op die strand is. Die verhoog was die fokuspunt met ‘n uitstalling van onder andere sambrele, strandstoele, branderplanke, bootjies en skulpe op seesand. Die tafels is versier met interessante dekor van sandhouers met ‘n verskeidenheid van see items binne die houers, en blompotte gevul met gekleurde water en skulpe.

Carin Conradie het die opening waargeneem met ‘n pragtige boodskap om ook by die tema Kleur jou lewe aan te pas. Sy het na God as ‘n kleurvolle God verwys deur na verskillende tekste in die Bybel te verwys. Sy het verskillende kleure hoede op haar kop gesit om te illustreer hoe elkeen ook kleur aan haar eie lewe kan gee deur onder andere vriendelikheid, arbeidsaamheid, oudtydse gasvryheid, pret saam met vriendinne, boeklees en waardigheid. Die samesang met die sing van die Oorwinningslied het God as kleurryke God bevestig.

Die eerste spreker, Mark Dixon, ‘n marinebioloog, het die dames toegespreek oor die Ridge to Reef navorsingsprojek wat een van die projekte van die Strandloper Project (‘n marine navorsingorganisasie van Sedgefield) is. Leefstyl, boerdery, die omgewing en die oseaan is alles met mekaar verbind. Hy het veral na die Swartvlei riviermonding verwys. Die navorsing het bewys dat die landbousektor ‘n rol speel in die besoedeling van riviere en vleie. Hierdie besoedeling is ‘n bedreiging vir die visse in riviere en vleie, maar ook vir die seevisse aan die anderkant van die riviermonding. Hy het ‘n paar wenke aan die hand gedoen wat boere kan toepas om die visse in vleie en riviere, en uiteindelik ook in die oseaan te beskerm: Boere moet eerder diere in hulle boorde laat wei en so sorg vir natuurlike bemesting in plaas van chemiese produkte, landerye en boorde behoort nie nader as 100m van ‘n rivier aangeplant te word nie en raak ontslae van uitheemse plante en bome. Hy het verder daarop gewys dat afval-vistoerusting wat die visse verstrengel en doodmaak (ghost fishing),‘n groot bedreiging vir die visse in die koraalrif inhou.

Die tweede spreker, ook van ‘n organisasie in Sedgefield, was Jacky Weaver, president van Masithandane. Dit is ‘n Christen, NWO in Sedgefield met die leuse: Let us love one another. Hulle spits hulle veral toe op gesondheidsorg, bejaarde- en kindersorg, opvoeding en opleiding en voedingskema. Hulle gebou is gehuisves tussen die minderbevoorregte en bevoorregte gemeenskappe in Sedgefield. Daar is tans 48 personeellede en 120 vrywilligers wat by Masithandane betrokke is. Hulle hou gereelde fondsinsamelings (soos die Garden Route Kite Festival op 12 Oktober, Anything that floats en Nuwejaarskonserte),spanbou, uitstappies, werkswinkels en uitreike- onder andere: tuisbesoeke, inentings, oogtoetse, versorging en beskerming van weerlose kinders, gesinsprogramme, ‘n kursus vir dogters om hulleself te bemagtig, kleinsake besigheidsopleiding, die oprigting van ‘n leerder ondersteuningsentrum, opleiding van tuisversorgers,’n weefprojek, die mosaïekprojek wat Sedgefield so mooi verfraai het, die vroeëkinderontwikkelingsentrum, befondsing vir die vervoer na skole, bejaardedienssentrum, voedingskema met maaltye en kospakkies. Jacky het indrukwekkende statistieke van hulle werksaamhede gegee: Gesondheidsorg: 17 919 screenings, 24 862 besoeke en konsultasies deur die mediese personeel, 56 pasiënte vir 24/7 mediese sorg, 9303 tuisbesoeke, 9306 uitreike, praatjies en beradingsessies. Kinder- en familie programme: 82 familie besoeke, 545 uitreike na kinders, 2400 tuisbesoeke. Voedingskemas: Totale getal maaltye vir al die programme: 378 316.

Lydie Terblanche het ‘n kort oorsig van die ontwikkeling van Afrikaans as taal gegee en enkele hoogtepunte uitgelig om die100ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike landstaal te vier. Reeds in 1858 is daar van Afrikaans as taal gepraat. Die GRA is in 1875 gestig. Hulle het baanbrekerswerk gedoen om die taal en kultuur te bevorder. In 1876 verskyn die eerste Afrikaanse koerant, in 1882 word die eerste skool wat Afrikaans as onderrigtaal aanbied, gestig, en in 1890 verskyn die eerste Afrikaanse kookboek. In 1902 volg die tweede taalbeweging en so word Afrikaanse taalreëls ontwikkel en skrywers en digters soos o.a. Eugene Marais tree na vore. Hierna brei Afrikaans as taal geweldig uit en verskeie publikasies in Afrikaans volg: In 1912 die eerste Afrikaanse Kinderbybel, in 1919 die eerste Afrikaanse vroueblad genaamd Die boervrou, in 1920 die eerste Landbou Weekblad. Afrikaans word in 1925 as amptelike landstaal naas Engels verklaar. Die ontwikkeling van Afrikaans ken dan geen perke nie. In 1926 verskyn die eerste Afrikaanse woordeboek, in 1930 die eerste tweetalige woordeboek, in 1933 die Bybel in Afrikaans en in 1937 die FAK-sangbundel. Ook op ander terreine brei Afrikaans uit: In 1923 word Chris Blignaut se My Sarie Marais oor die radio gehoor, in 1925 word die rugby in Afrikaans uitgesaai, in 1942 ontstaan die eerste Afrikaanse Universiteit, van 1946 begin Danie Bosman om Afrikaanse musiek te komponeer, in 1949 sing Al Debbo Bobbejaan klim die berg en in 1951 verskyn Jamie Uys se rolprent Daar doer in die Bosveld, in 1959 verskyn Adam Small se literêre werk, die eerste gekleurde man wat in Afrikaans publiseer. Die tydperk tussen 1947 tot 1961 is ‘n bloeitydperk vir Afrikaanse teaters en skrywers en digters wat werke in Afrikaans publiseer. Die 1976 opstande teen die gebruik van Afrikaans in skole ruk die Afrikaanssprekende gemeenskap en in 1994 word Afrikaans as een van 11 landstale geklassifiseer (sedertdien is gebaretaal as ‘n twaalfde landstaal aanvaar). 100 jaar later word daar steeds gestry en baklei oor die voortbestaan van Afrikaans, maar ons bly steeds sterk staan.

 

Elize Locke, Sirkelpresident, het namens VLV-SWD ‘n skenking aan die president van die Lions in Sedgefield, Peter Hall, oorhandig om die Lions erkenning te gee vir die Lions Hunger inisiatief in Sedgefield. Behoeftige mense in Sedgefield en Karatara word gehelp met hulle sopkombuise wat hulle organiseer. Hulle verleen ook hulp deur mense touwys te maak hoe om groentetuine aan te lê om sodoende hulle eie kos te voorsien.

Die VLVK-projek is Bejaardes maak saak. Daarom het die SWD besluit om hierby aan te sluit en as SWD-projek doeke, handdoeke, paslakens, waslappe of ‘n kontantbydrae aan Huis Loeriehof in Knysna te skenk. Elize Locke, Sirkelpresident en Miemie de Lange, voorsitter van die Sedgefield, het die oorhandiging aan Simone de Jager, bestuurder van Huis Loeriehof, oorhandig.

Die volgende persone word bedank: Die borge Cape Coast Homes, The Conveyancers MMO. SWD-sirkelbestuur Elize Locke, Christine Coetzee, Carol Scott, Marlene Lucas, Petro Doman, Lydie Terblanche, Lynette Nel, Sanette Louw en Valeria Terblanche. Sedgefield bestuur Miemie de Lange, Michele van Antwerpen, Carin van Niekerk, Anna Herbst en Gerda van der Westhuizen. Taklede Tisha Ludick, Barbara de Jager, Christie Broden en Marlien Stapelberg. Beoordelaars Linzetta Smit, Driekie Uys, Johlene Muller, Anita Fourie, Rita Knoetze en Lynette Briedenhann. Fotograaf Karin Botha. Opening Carin Conradie. Sprekers Mark Dixon en Jacky Weaver. Spysenier Salomie Snyman. Mickey Louw en Ronnie van Brilliant Events (klank)