Sirkel: Weskus
Tak: St Helenabaai
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Wilna Marx
Fotograwe: Elmarie Visser en Estelle Coetzee
Datum: 11 Maart 2025
Skakerings van groen in St Helenabaai!
‘n Leefstylvergadering om te onthou! Pragtige, rustige groen wag op ons in die saal. Ons Vise-Voorsitter, Elna Louw verwelkom die vier nuwe lede wat pas by ons aangesluit het. Ook ontvang die verjaarsdagdames elkeen ‘n pragtige houtbord.
Op hierdie windstil oggend luister ons na Neels Swanepoel wat al die pad van Worcester gekom het om met ons dames te gesels.
Neels wat vir baie jare in die regsberoep gestaan het, het in 2019 ‘n nuwe pad saam met Jesus aangepak. In 2019 verhuis hy ook van Gauteng na die Wes-Kaap. Hier ontvang hy, soos hy sê, die besigheid ‘Ginger Juice’ van ‘n onbekende man as geskenk.
Neels het aan die produk geskaaf, baie navorsing gedoen, en vandag bied hy ‘n organiese produk aan wat op gesondheid gemik is. Neels noem dat ‘n mens alles in die lewe kan hê soos geluk en besittings, maar dat gesondheid heel bo aan die lys staan.
Ginger Tonic is ‘n 100% natuurlike drankie met uitstekende gesondheidsvoordele, vol vitamiene en minerale. Dit is ‘n produk wat ontwerp is om mense te help om beter gesondheid op ‘n natuurike manier te bereik.
Dit word vars gemaak op bestelling en bevat gemmer, suurlemoen en knoffel, met bygevoegde cayennepeper of borrie of moringa poeier of kaneel, afhangend van die geur. Ons verkry al ons produkte van plaaslike boere en die varsprodukmark om te verseker dat ons produkte so vars as moontlik is wanneer dit aan ons kliënte gelewer word. As ons suurlemoene enige varser was, sou hulle nog aan die bome hang, en ons gemmer en knoffel sou nog groei sê Neels met ‘n glimlag.
Na afloop van Neels se praatjie word die dames getrakteer met tafels gelaai vol van plaatkoekies, room, aarbeie, heuning, biltong, kaas en soveel meer.
‘n Heerlike oggend vol gesondheid, lekker eet en heerlike samesyn kom tot ‘n einde. Hier word die lewe met styl gevier!
Die mooie groen saalversierings
Die nuwe lede word verwelkom
Verjaarsdagdames
Neels Swanepoel besig met sy praatjie
Die dames luister met oorgawe na Neels
Estelle Coetzee, sameroepster van Leefstyl, bedank Neels vir sy insiggewende praatjie
Heerlike eetgoed