Sirkel:  Tygerberg

Tak:  Brackenfell Varings

Portefeulje:  Openbare Sake

Saamroeper:  Die Bestuur

Beriggewer:  René Ferreira

Datum van vergadering:  6 Maart 2025

 

‘n Gedissiplineerde hond is ‘n gelukkige hond!

Met die instap by VLV-Varingtak se Maartvergadering, was ons onmiddellik bewus van die groot, swart hond wat ook in die vergadering is. Later word ons aan hom voorgestel: “Elvis” van Mariëtte Krige, is ‘n opgeleide Labrador-kruis, ook ‘n “rescue”, wat die vergadering rustig geniet het! Wayne Wilson van Wilson Dog Training het gesorg vir ‘n skitterende, ingeligte praatjie oor die gedrag van honde. Hy spesialiseer daarin om honde op te lei as dienshonde, m.a.w. gidshonde vir blindes, honde wat hul eienaars kan waarsku wanneer die bloeddruk of suiker te hoog is en veral om agressie, bakleiery of bytgedrag by honde te identifiseer en die eienaar te help dat die hond dit afleer. Hy het vir Jake, ‘n Varkhond (bull terrier) opgelei. Jake was die heel eerste Varkhond wat gekwalifiseer het as ‘n dienshond. Wayne gebruik Jake om verskeie tegnieke te demonstreer.

  • Wanneer die hond aan die leiband trek, moet jy hom bietjie teëhou, rustig maak en dan deur die situasie neem. Kos is ‘n baie goeie motivering om die hond te lei en te beloon indien hy reg deur die situasie gewerk het.
  • Wanneer jou hond ‘n ander hond wil groet, beweeg in daardie rigting, maar verby die ander hond.
  • Hond hardloop net weg:gebruik ‘n flexi leiband en gee jou hond spasie, maak die leiband los en sê “sit”. Gebruik ‘n stukkie kos, beweeg weg, neem die kos saam. Jy oefen om suksesvol te wees – haal die leiband af, gee die opdrag, hou die hond se aandag.
  • Weier dat iemand jou hond aanraak.Onthou jy kompeteer met ander mense se aandag. ‘n Hond is opgelei vir daardie spesifieke persoon, dis nie vir aanraak of aandag gee nie.
  • Gebruik eers die flexi leiband, maak dit dan los, beweeg 5m weg, roep die hond, “mooi, Seuntjie” en ‘n stukkie kos as belonging, wanneer hy positief reageer.Hy moet weet jy het kos, as hy gehoorsaam is, is jy die persoon wat hom kos sal gee.

Ananda van Niekerk is die eienaar van Jake en sy het nuttige wenke deurgegee, soos bv. dat ‘n hond gewoond gemaak moet word om ‘n veearts te besoek. Diere word ook oud en het dan ‘n dokter nodig. Wayne het vertel dat honde met mekaar kommunikeer deur feromone waar hulle bv. met hul poot krap op die grond, hulle sê bv. vir mekaar “hierdie plek is nié lekker nie”.

Die Varing-dames was op en wakker met hul vrae en bydraes, een boervrou het vertel dat haar honde in die lande na haar toe aankom en die poot hou sodat sy hul dorings kan uittrek! ‘n Ander vertel dat wanneer sy angstig voel, die hond teen haar kom stamp en dan met sy kop op haar skoot kom lê totdat sy rustig is. En wat van ‘n ander lid se hond wat haar gaste aan hul agterstewe byt as hy nie genoeg aandag kry nie!

Ananda van Niekerk, Jake, Wayne Wilson, Mariette Krige en Elvis

Elvis

Wayne Wilson van Wilson Dog Training

Jake, eerste Varkhond wat gekwalifiseer het as dienshond

Ananda van Niekerk, Jake en Wayne Wilson

VLV Brackenfell Varing se dames luister aandagtig na Wayne Wilson