Tak: Bredasdorp

Sirkel: Overberg

Beriggewer: Joanie Pretorius – Leefstyl Saamroeper

Datum van geleentheid: 4 Maart 2025

KLEUR JOU LEWE – Ons Jaartema

Wat ‘n kleurontploffing was dit nie! Met ons jaartema en jaarprojek (Bejaardes Maak Saak) in gedagte, het ons Leefstylgroep vir elke lid gevra om ‘n speserybotteltjie vol blomme saam te bring na ons vergadering toe op 4 Maart 2025 in BREDASDORP.
Daar was ‘n uitstaltafel met onder andere pragtige weefwerk van Marie Spamer. Ellij Greeff se massiewe voëlkoutjie en Hannelie Raath se hoenderhaan het dadelik die oog gevang.

Suidpuntkoor het die item gelewer. Met Christa-Marié Williams as koorleier en Karin Michau as pianis het ons die kerksaal se dak laat lig. Die bekende, beminde liedjies het menige gas in die gehoor laat saamsing. Selfs die koorlede is vooraf versoek om kleurvol aan te trek.
Ons spreker was Vida Coetzer, ‘n mode-ontwerper van Johannesburg wat tans in Struisbaai woon. Die gehoor het aan haar lippe gehang. Sy het vertel hoe die gogga vir patroonontwerp haar gebyt het toe sy nog studeer het. Haar kamermaat het huisdansrokke in die koshuisgange uitgeknip.
Vida het eers begin skoolhou, maar het toe ‘n permanente pos bedank om patroonontwerp te studeer. Met ‘n 18-maande oue baba het sy as 27-jarige saam met skoolverlaters ‘n strawwe kursus by die kollege aangepak. Haar dosent was ‘n Brit met baie kennis, ervaring en kundigheid oor elke aspek. Hy was ook die hoof van die kollege.
Haar vakke was onder andere Patroonontwerp, Materiaalidentifisering, Klereproduksie-organisering en Mode-illustrasie.
By patroonontwerp moes hulle eers leer om korrek mates te neem in ‘n sekere volgorde. Daarvolgens kon jy ‘n patroon optrek. Hulle het begin met ‘n basiese romppatroon op papier en op karton. Hulle moes ook oefen om op ‘n lyn te knip, want presisie lei tot perfeksie. Die romp is in halfgrootte gemaak om tyd en materiaal te spaar. Hulle moes ook leer om met vinnige industriële masjiene te werk. Hulle moes oefen om vinnig te stop; reguit te stik; in die hoekies te draai en om die spoed te kan beheer met die voetplaat.
Elke stap moes ook gestryk word. So het sy met industriële stoomysters leer stryk.
Die kartonpatroon (basic block) is gemanipuleer om verskillende rompstyle te kan teken: sirkelromp, romp met plooie, bane, sakke, ensovoorts.
Ná die romp het die bolyfpatroon gevolg. Verskillende style, halslyne, knoopsgate, afwerking van nate, tipe krae, maniere van vasmaak en openinge moes opgetrek kon word. Die blokpatroon vir moue, ‘n rok, baadjie en broek was ook op die lys.
Die mode-illustrasie en “working drawing” was baie spesifiek: diepte van plooie, wydte, eindlengte. Hulle het in die toets ‘n prent gekry en dan moes hulle binne beperkte ure aan die hand van hulle blokpatrone die kledingstuk maak.
Verskillende materiale is verken. Natuurlike stowwe: katoen, wol, sy en linne brand stadig en vorm uiteindelik ‘n fyn poeier as jy die vlamtoets toepas. Sintetiese stowwe vat maklik vlam en hulle uiteinde is ‘n plastiekballetjie.
Vida geniet dit om met mooi lappe en mooi ontwerpe te werk. Sy gee die volgende wenke:
1. By lappe met ‘n pool, soos fluweel, moet jy kyk dat die panele in dieselfde rigting uitgeknip word;
2. Blomme  moet in dieselfde rigting  uitgeknip word en
3. Laat ekstra materiaal toe as daar patroonherhaling is.
Die lengtedraad is gewoonlik die sterkste.
Sy het 25 jaar as klere – ontwerper gewerk en toe roep haar liefde vir skoolhou haar terug skool toe. Sy het nooit ophou klere maak nie.
Vida het Yves Saint Laurent aangehaal: ” I have always believed that fashion was not only to make women beautiful, but also to reassure them and give them confidence.”
‘n Oormaat klere kan ook lei tot kommer.  In die 18de eeu het Marie-Antoinette meer as 365 uitrustings per jaar laat maak. Sy is op 37 onthoof!
Die Britse koninklike, Koningin Victoria het in die 19de eeu ‘n wit trourok begin tradisioneel maak. Sy wou haar rykdom ten toon stel met ‘n trourok van Honeycomb – kant met blommotiewe. Die motief is vernietig sodat niemand anders ‘n rok daarvan kon laat maak nie.
Vida, in wit geklee, met ‘n vrolike bont sjiffonagtige lang kimono bo-oor, was ‘n prentjie van elegansie.
Staaltjies van lief en leed tydens haar klere-ontwerpery vir kliënte is met ons gedeel. Haar heel eerste kliënt was haar Engelse ouma, Ouma Vida. Sy moes vir haar rokkies maak en is selfs betaal daarvoor.
Dan was daar die tweelingsussies. Een het niks gesê nie, net geskryf dat sy baie van haar rok hou (sy was vir iets gestraf en moes vir ‘n week lank nie praat nie).
Die pa wat sy dogter gebring het vir mates en materiaal en patroon uitsoek vir ‘n matriekafskeidrok, word ook nog onthou. Sy vrou is oorlede.
Vida se skeppings word gereeld gesien (op ‘n Swellendamse mark, in die wit tent se Kersmark in Struisbaai en in Earth op Struisbaai). Wat ‘n formidabele vrou!
Om terug te keer na blomme… Gina se lieflike blommerangskikking op die voorsitterstafel het ons ‘n kykie laat kry op hoe die tafelrangskikkings op die konferensie sal lyk. Party beoordelaars van ons tak het huis toe gegaan met ‘n pen as geskenk, waarop ‘n groot geel affodil pryk. Verder is die botteltjies met blomme, met ‘n kaartjie om die nek gestrik, by Suideroord Tehuis uitgedeel. Op die kaartjie is ‘n pikante rooi hoëhakskoentjie gedruk met Coco Chanel se sê-ding: ” Hou jou hakke, kop en standaarde hoog.”
Dit is presies wat ons by die VLV wil doen en hopelik regkry.