Sirkel:  Paarl

Tak:  Strand

Portefeulje: Openbare Sake

Saamroeper: Mariaan Herbert

Beriggewer: Erna de Waal

Datum van vergadering: 25 Februarie 2025

 

LEES JOU KOERANT EN LUISTER NA WILLEM

By Strand-tak is die maandelikse byeenkoms lank nie meer net ‘n vergadering nie – dis telkens ‘n groot verrassing. Hierdie keer het die lede rondom mooi getooide tafels gesit wat ‘n gesellige atmosfeer skep. Wat elkeeen oor gewonder het was die versiering: ‘n gedeelte van Die Burger in ‘n glashouer. “Wat is die storie?” het ons mekaar gevra. Mariaan Herbert, Saamroeper van Openbare Sake, is bekend daarvoor dat sy dikwels ‘n haas in die hoed het. Ons sou gou uitvind: elke groep moet hulle stuk koerant aandagtig lees en dan ‘n opsomming verskaf aan die res van die gehoor. Dit het net weer beklemtoon hoe belangrik ‘n koerant in ons lewens is.

Mnr. Willem Herbert, Stads – en Stedelike Beplanner, het baie insiggewende en interessante inligting verskaf oor ‘n beroep wat moeilik is om te verduidelik. Stedelike beplanning en ontwikkeling is ‘n breë onderwerp omdat dit ‘n mengelmoes van ‘n multi-dissiplinêre proses is waarby verskeie ingenieurs bv.: siviele, elektriese, en verkeers ingenieurs betrek word. Voeg daarby landbou en omgewings spesialiste dan besef mens watter groot en ingewikkelde taak hulle verrig. Daarby moet die wetgewende raamwerk in ag geneem word, wat Nasionaal, Provinsiaal en Munisipaal insluit. Stedelike grense, beskerming van landbougrond en natuurgebiede, infrastruktuur m.b.t. water, riool en paaie, toeriste, kapitaalbegroting en implimentering speel ‘n groot rol. Die implimentering van die beplanning en ontwikkeling moet ook voldoen aan die beleidsproses wat die munisipaliteit en private ontwikkelaars raak. Die uitdagings is natuurlik altyd daar, soos vinnige bevolkingsgroei en beskikbaarheid van water. Die bevolkingsgroei in die Wes-Kaap Provinsie was tot verlede jaar 7.8 miljoen, in Kaapstad het die bevolking vanaf 1990 tot 2025 gegroei met 3 miljoen – 142%. Die impak van vinnige bevolkingsgroei en beskikbaarheid van water skep verskeie uitdagings. Owerhede (Kaapstad en Nasionale departemente) gaan al meer sukkel om aan die groeiende bevolking se behoeftes soos behuising en watervoorsiening te voldoen. Die oplossing is: meer befondsing, waterkapasiteit moet verhoog word deur damme te bou, waterwys metodes moet geïmplimenteer word en ontsouting. Stedelike beplanning is ingewikkeld en benodig insette van verskillende dissiplines en staatsdepartemente. Ons is nie altyd bewus van hoeveel werk die beplanners soos Mnr. Herbert moet verrig om aan ons, die bewoners van hierdie pragtige stukkie aarde, moontlik te maak nie.

Lank ná die vergadering was daar baie om aan te herkou en te waardeer!

 

Willem Herbert, Stads- en Stedelike Beplanner van Kaapstad aan die woord.

Mariaan Herbert (Saamroeper Openbare Sake) en Willem Herbert (Spreker) in gesellige luim.

Annaleze Sieberhagen, Wilhelmien le Roux en Marinda Pienaar, lede van Strand tak saam met hul gas, Cecile van der Poel.

Maretha Badenhorst, erelid van die tak saam met Dorothy Bester, haar gas.

Emsie Marx se inskrywing van ‘n vignette wat oudhede bevat.

Adriana Smith het ‘n kleurvolle en interessante Mondrian geskep.

Leta du Preez se bydrae in die die skilderkunsafdeling.

Landskap skildery van Marinda Barnard.

Pragtige knopiekuns gemaak deur Annemarie Skibbe.