Sirkel: SWD
Tak: Sedgefield
Portefeulje: Landbou en Tuinbou & Opvoeding en Kultuur
Saamroeper: Miemie De Lange
Beriggewer: Carin Van Niekerk
Datum van vergadering: 19 Februarie 2025
SEDGEFIELD VLV-TAK WORD GEïNSPIREER OM KREATIEF TE RAAK
Carina Kruger, ‘n plaaslike kunstenaar van Sedgefield, sowel as Karin en Mercia van ‘n plaaslike winkel, Old Little Teashop, het die dames van Sedgefield se VLV-tak op 19 Februarie 2025 kom besoek. Carina was eerste aan die woord. Volgens haar is kunste en handvlyt ‘n persoonlike ervaring. Alle mense is elke dag kreatief sonder dat hulle dit besef. Jou klere wat jy aantrek, jou grimering wat jy aansit, om in winkels rond te loop en iets moois raak te sien, is alles deel van kreatiwiteit. Jy moet jou persoonlike emosie daarin sit en so ontwerp jy elke dag iets unieks. As jy na kunswerke kyk, interpreteer elkeen dit anders. Kunswerke inspireer verskillende emosies. Daar is verskillende soorte kunste en handvlyt. Elkeen moet sy eie ritme daarmee vind. Die belangrikste is om dit met ‘n positiewe gesindheid en met liefde aan te pak en uit te voer. Kry inspirasie uit die natuur. Werk in die tuin. Verf jou huis. Hekel of brei iets. Doen fotografie. Borduur ‘n muurprent. Skilder. So kan die lysie aangaan. Dit is belangrik om jou kreatiwiteit uniek en spesiaal te maak. Jy vertel eintlik jou storie met jou kunswerke en handvlytartikels. Sy sluit haar praatjie af deur te beklemtoon dat as jy die dag ‘n bietjie mismoedig voel, jy sommer gou beter gaan voel deur kreatief te wees. Selfs om ‘n koppie tee te maak, is kreatief.
Met daardie woorde van haar, het Karin van Old Little Teashop by Carina se praatjie aangesluit. Karin, haar sussie Stephanie en hulle ma Mercia het verlede jaar die winkel by die Amblewood Sentrum oopgemaak. Hulle poog om mense aan te moedig om by hulle winkel net weer ‘n bietjie rustig te raak, tee te kom proe en dit te kom geniet. Hulle spesialiseer in rooibostee en dit het natuurlik baie meer gebruike as om dit net as ‘n drankie te gebruik. Dit kan o.a. vir slaapprobleme, sonbrand en allerlei gesondheidsprobleme gebruik word. Karin het die dames aan drie soorte rooibostee van Carmien Tee en Liza Mouton Tee voorgestel. Die dames het die tee geproe en almal het saamgestem dat dit vir elkeen ‘n persoonlike ervaring en voorkeur is. Die verskillende teesoorte het elk ‘n ander doel. Carmien Tee sowel as LZM Tee is in netjiese verpakkings en kan ‘n wonderlike bederfgeskenk vir iemand wees.
Leave A Comment