SIRKEL: PAARL
TAK: SUIDER PAARL
PORTEFEULJE: OPVOEDING EN KULTUUR
SAAMROEPER: FREDA LOUW
BERIGGEWER: GONNY DU PLESSIS
DATUM: 19 FEBRUARIE 2025
‘n Vrolike, kleurvolle afskop
Suider Paarl-tak het die nuwe jaar afgeskop met ‘n kleurvolle Opvoedingsvergadering.
Mev Freda Louw was die Saamroeper en saam met die gasvroue het hul die lede en gaste laat welkom voel. Na ‘n paar afkondigings het me Sharon Jansen van Rensburg, die gaskunstenaar, drie baie mooi Afrikaanse liedjies gesing wat almal in ‘n vrolike stemming gebring het.
Die spreker van die oggend was me Elsabé Lintvelt, bestuurder van die Wamakersvallei Opleidingsentrum vir Tuisversorgers in Wellington.
Sy het met groot passie gepraat oor die kursusse wat aangebied word vir , meestal werklose, jong studente. Daar word elke kwartaal 35 studente opgelei. Die kursus kos R5000 en studente moet in besit wees van ‘n matrieksertifikaat.
Die studente kry onderrig in bejaardesorg, babasorg en kleutersorg en word vir die praktiese deel van die kursus uitgeplaas na Huise vir bejaardes en kleuterskole vir ongeveer drie weke. Verskeie soorte terapeute, pediaters, babamasseerders kom gee ook klas en doen die diens vrywillig. Die uitplasing van die studente wat klaar geleer het word haarfyn beplan. Studente kan ook hul voorkeure uitleef soos om met bejaardes of eerder met kleuters te werk.
Die opleidingsentrum is nie winsgewend en is afhanklik van donasies van groot instansies.
Daarna is daar deur die voorsitter ‘n koerantuitknipsel voorgelees oor die ontstaan van die “Spar” winkels. Dit het in Nederland ontstaan in 1932 toe 16 winkeleienaars saam met mnr Adriaan Well die onderneming begin het. Die woord “Spar” staan vir “Samen Profiteren Allen Regelmatig” dws almal gaan baat deur saam te werk en ‘n groep te vorm. Die embleem is die immergroen spardenneboom wat in Nederland voorkom . Mnr Well het met ‘n sakemodel begin waardeur ‘n groep kleinhandelaars nie net saam aankope , maar ook verkope en reklames doen waarby almal baat.
Die oggend is afgesluit met nog ‘n paar vrolike liedjies.
Vrolike kleurvolle tafels.
Lede kuier gesellig saam.
Vlnr. Freda Louw, saamroeper, Me Elsabé Lintvelt, gasspreker, me Ely Brouwn, Lid.
Die sangeres, Sharon J van Rensburg en Freda Louw.