Tak:&nbsp&nbspAberdeen

Portefeulje:&nbspOpenbare Sake

Beriggewer:&nbspLea van der Vyver

Datum:&nbsp19 Februarie 2025

 

Aberdeen leer meer oor die Wonder van Saamgestelde Rente

 

Aberdeen se vergadering op 19 Februarie fokus op die Openbare Sake studierigting. Lede gesels opgewonde, aangesien almal nat grondpaaie moes trotseer ná heerlike reën in die distrik!

 

Saamroeper Suzanne Lategan open met ‘n gepaste teksvers oor dankbaarheid – leef ons in dankbaarheid vir elkeen van die baie genadegawes wat ons elke dag onverdiend van die Here ontvang? 1 Thes 5 maan ons om bly te wees, om sonder ophou te bid en in alles dankbaar te wees.

 

Interessante fokuspunt met vetplante vir vergaderingtafel.

 

Spreker van die dag is Ampie Jordaan, Welvaartsbestuurder van PSG op Graaff-Reinet. Hy gee ‘n breedvoerige oorsig oor die wêreld van finansiële beplanning. Baie mense sukkel om oor finansies en beleggings te praat, aangesien hulle nie daarmee grootgeword het nie en ook nie op skool daarvan geleer het nie. As jy egter nie ‘n finansiële plan het nie, beplan jy eintlik om te misluk. Boerdery is ‘n moeilike, dinamiese en wisselvallige besigheid en deeglike finansiële beplanning is dus van kardinale belang.

 

Doelwitte dryf jou en bepaal jou optrede. Jou testament is eintlik ‘n geskrewe doelwit vir jou lewe. Sorg dat daar likiditeit is, aangesien boedels deesdae baie lank neem om af te handel en begunstigdes en/ of besigheid intussen moet aangaan. Ons moet die meeste maak van dit wat aan ons toevertrou word tydens ons leeftyd – dit waarvan ons rentmeesters is, aangesien jy niks saamneem na jou afsterwe nie.

 

Finansiële beplanning kyk na 2 beginsels – die risiko kant (hoe beskerm jy dit wat jy het) en hoe pas jy dit op om te groei en goeie opbrengs te lewer.

 

Die risiko’s wat bestaan is onwaarskynlikhede wat gebeur, bv. ernstige siekte en tydelike of permanente ongeskiktheid. Dit is belangrik om dinge in plek te hê om jou finansieël by te staan in hierdie situasies – bv. mediese fonds/ hospitaalplan, inkomstebeskerming, lomp som uitbetalings, lewensdekking.

 

Aan die beskerming en groeikant is die beginpunt om meer te verdien as wat jy spandeer en dus ‘n positiewe kontantvloei te hê. Dit is belangrik om ‘n spaarmentaliteit te hê en sistematies te spaar. Verder is dit belangrik om die effek van inflasie en belasting teen te werk en te minimaliseer.

 

Saamgestelde rente is die aspek wat oor tyd die grootste, veiligste groei in kapitaal verskaf. Om maksimum voordeel te trek is dit uiters belangrik om so vroeg moontlik te begin. Ouers moet hulle kinders wat begin werk, aanmoedig om finansiële raad te kry en van die begin af geld te spaar en te belê. Effektiewe instrumente is bv. ‘n belastingvrye rekening en uitree-annuïteite.

 

Ander belangrike aspekte is dat beleggings nie te veel rondgeskuif moet word nie, dat jy beleggings diversifiseer en ook in groei-instrumente belê. Sodoende sal saamgestelde rente ook maksimeer word.

 

Ampie Jordaan sluit af deur daarop te wys dat netheid in jou finansiële en administratiewe sake uiters belangrik is. Sorg dat daar ‘n lys is van alle belangrike aspekte indien jy skielik tot sterwe sou kom.

 

Ampie Jordaan, Welvaartsbestuurder, PSG, Graaff-Reinet saam met Suzanne Lategan, Saamroeper Openbare Sake.

 

Lize de Jager wen die gelukkige trekking van die dag en Stephanie Theron word gelukgewens met haar verjaarsdag. Die dag word afgesluit met gesellige samesyn en heerlike eetgoed voorsien deur Christelle Nel en Lize de Jager.

 

Teetafel met heerlike eetgoed, pragtig versier met mandjies pluime.