Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Hannetjie Cordier
Datum: 18 Februarie 2025
Voëlvlei se dames leer meer van naaldwerk en geniet ‘high tea’
Die kleurvolle uitnodiging na Voëlvlei se ‘high tea’ op 18 Februarie 2025 was reeds genoeg om die lede opgewonde maak. Die dames is gevra om elkeen ‘n erfstukkoppie, -piering en -kleinbordjie saam te bring vir die geleentheid. Die tafels het feestelik gelyk met die pragtige blomme, fyn eetgoed en die groot verskeidenheid spesiale breekgoed – elkeen met sy eie verhaal en mooi herinneringe.
‘n Paar dames is gevra om meer te vertel oor hulle spesiale erfstukke. Alida Strydom se pragtige trio is deel van Royal Albert se Gossamer-ontwerp. Die Gossamer-stel is besonders, want elke trio in die stel het ‘n ander kleur. Chrislida van Rensburg het ook meer vertel oor haar trio wat deel vorm van ‘n stel Sammeltassen wat sy begin versamel het terwyl sy en haar gesin in Namibië gewoon het. Die tradisie van Sammeltassen (Duits: sammeln = versamel en Tassen = koppies) het vroeg in die 19de eeu begin toe mense fyn koppies en pierings met verskillende ontwerpe en style begin versamel het eerder as om ‘n stel eenderse koppies te koop.
Ina Smit van Bernina in Mosselbaai het die dames met haar aansteeklike entoesiasme geïnspireer met demonstrasies van chenille-werk en ‘thread painting’, asook naaldwerkwenke. Sy het onder andere beklemtoon hoe belangrik dit is om ‘n masjien se naald gereeld te vervang en om gare van ‘n goeie gehalte te gebruik. Sy het verskeie katoeters gedemonstreers wat selfs van die gesoute naaldwerksters laat besef het dat ‘n mens altyd nog kan leer en dat daar altyd nuwe versoekings op die mark kom om naaldwerk makliker te maak.
Die tak het ook vir die eerste keer met groot sukses ‘n witolifanttafel aangebied om fondse in te samel.
Chrisilda van Rensburg en haar teestelletjie genoem Sammeltassen
Ina Smit van Bernina
Leave A Comment