Sirkel: Tygerberg
Tak: Brackenfell Varings & Helderberg
Portefeulje: Beplanningsvergadering vir die 2025 Tygerbergsirkel-Konferensie – 18 en 19 Maart by NG Kerk Strand-Noord
Saamroeper: Voorsitters van die 2 Takke
Beriggewer: René Ferreira
Datum van Vergadering: 6 Februarie 2025
Brackenfell Varings is 78!
As jy ‘n suksesvol wil wees, moet jy beplan!
Daar moes beplan en bespreek word en daarom het die dames van die Helderberg- en Brackenfell- VLV-takke, vandag op 6 Februarie, opgetrek na die Varingtak op Brackenfell sodat elke VLV-lid gerat en ingelig kan wees oor haar pligte vir die 2025 Tygerbergsirkel-konferensie. Annie Potgieter, Voorsitter van Helderbergtak, was aan die woord en sy het doelgerig deur die finale beplanning gewerk. Haar lede was voorbereid en hulle het verduidelik presies hoe die etes, regmakery en skoonmaak gaan verloop. Tussendeur leer ons weer – Annerie Mac Donald vra ons moet appelkooskleurige hibiscus-blomme bring – “moenie in water sit nie, dan trek dit toe – bring dit nétso droog”! Ons kon sien wat beplan word met die tafelversierings, hoor van die geskenksakke en die moeite wat gedoen gaan word om elke lid en gas welkom te laat voel. Stadig maar seker het die erns en verantwoordelikheid van die taak oorgegaan in blye verwagting en glimlagte het op die lede se gesigte verskyn. Dit is verder aangehelp deur die Varingtak se 78ste verjaarsdag wat gevier is. Sheila Burger het twee pragtige koeke versier – dit was heerlik! Die belangrikste oomblik was toe Riana Ellis, Brackenfell Varings se Voorsitter (sy gaan later in Februarie vir ‘n groot operasie en was ontsettend ernstig dat alles glad moet verloop), vir ds Jacques Strydom van NG Kerk Brackenfell-Wes aan die woord stel en hy ons uit Psalm 138 verseker van God se goeie trou en sorg, nie net vir die konferensie nie, maar vir die toekoms van die Brackenfell Varingtak. Vandag is nuwe vriendskappe en ‘n gees van samehorigheid gesluit wat eie is aan die VLV.
Beplanning vir Konferensie
Ds Jacques Strydom van NG Kerk Brackenfell-Wes
As mens verjaar, moet jy ‘n koek hê
Brackenfell Varings is 78jr oud!
Annie Potgieter, Voorsitter van Helderbergtak, hanteer die werksverdeling
Mariëtte Krige, Waarnemende Voorsitter van die Varings
Leave A Comment