Sirkel: Weskus

Tak: Graafwater

Portefeulje: Kunste en Handvlyt

Saamroeper: Carol Loubser

Beriggewer: Marina Visser

Datum: 4 Februarie 2025

GEKLEE IN PIENK,WIT EN ROOI LEER GRAAFWATER VLV SPEEL-SPEEL MEER VAN KLEI

Wanneer ons die woord “klei” hoor sal meeste van ons se gedagtes spring na ‘n kind met speelklei, maar op Dinsdag, 4 Februarie 2025 het Graafwater VLV meer geleer oor dié produk met sy kort naam en vele fasette.

Algemene inligting oor en eienskappe van klei.

Klei word byna oral op aarde aangetref. Wanneer die verwering van veldspaathoudende gesteentes ontstaan, vorm ‘n klewerige kniebare grondstof, beter bekend as klei. Klei word gevorm tot o.a potte en bakke en dan gelaat om droog te raak.

Silika en Alumina is belangrike komponente van klei. Dit kom van stollingsgesteentes. Natuurlike klei word gevorm van veldspaat of granietrotse wat ontbind. Meeste kleisoorte word gevorm deur blootstelling aan lug, water of stoom. Kleipartikels is dig op mekaar en laat nie water deur nie.

Daar is primêre en sekondêre klei. Primêre klei word gevorm wanneer water die metale in die kleimengsel vervang. Die belangrikste primêre klei is Kaolien (porselein of China-klei) Dis suiwer en spierwit en omdat dit uit groot deeltjies bestaan is dit moeilik om mee te werk. Sekondêre klei is meer verweer deur water, wind en gletsers.

Geologiese ontdekkings wys dat kleiware al reeds in die antieke tyd gemaak is. Die Israeliete het in Egipte stene van klei gemaak. Mandjies is dig gemaak met klei sodat water daarin kon gedra word.

Die potterbakkerswiel is moontlik vir die eerste keer in 2500 v C gebruik deur ‘n stuk klei op ‘n draaitafel in die rondte te draai. Ongeveer 600 v C is in Griekeland vase van rooiklei gemaak en swart geverf. Erdewerke met mooi ontwerpe is in China gemaak sedert 208 v C. Poselein, wat wel bekend is, is sedert die 14de eeu deur China gemaak en uitgevoer. In 1710 ontdek die Duitsers die geheim van porselein en tot vandag vervaardig hulle dit by die Meisen-fabriek in Dresden. In 1756 het ‘n Franse fabriek met ‘n nuwe tipe porselein wat sagter is, vorendag gekom.

Keramiek is ‘n versamelnaam vir alle voorwerpe wat uit klei vervaardig word en na droging aan hoë temperature blootgestel word. Keramiek word afgelei van die Griekse woord “keramos”, wat potterbakkersklei beteken.

Metode vir die maak van kleiware:

Eerstens word die klei skoongemaak deur klip en vuiligheid te verwyder. Wanneer dit droog is word dit met water gemeng tot dit maklik gevorm kan word. Lang stukke klei word gevorm en dan opmekaar gevoeg om ‘n bak of vaas te vorm. ‘n Ander metode is om vloeibare klei te maak en dit in vorms te giet. Die gewildste metode is om die pottebakkerswiel te gebruik. Wanneer die produkte aan gewone lug blootgestel word is die droog proses stadig. ‘n Outomatiese droër is vinniger, maar die tyd sal ook afhang van die soort klei, erdestuk se vorm en versiering daarop.

Wenke:

Klei moet goed gebrei word om lugblasies te voorkom. Anders kan dit bars of krake in hê.

Op ‘n potterbakkerswiel moet die klei in die middel van die wiel gesit word.

As ‘n pot bars, maal eers die stukkies (grog genoem) en meng dit dan met nuwe klei vir ‘n sterker klei. Dit is wel grof op die hande.

Kreatiwiteit:

Om ‘n klei produk spontaan met jou hande te vorm is kreatiwiteit. Die kleur, hoeveelheid, tekstuur van die klei en jou gedagtes sal alles bydrae tot die proses om te besluit wat die produk gaan wees en hoe dit gaan lyk.

Klei resepte:

SPEELKLEI RESEP

Meng 1x koppie meel

Driekwart koppie sout

1x eetlepel kremetart.

Gooi by:

1 x koppie kookwater

1x eetlepel olie

Voedselkleursel

Meng goed en laat afkoel. Bêre in toeritsplastiek sakkie.

 

Dit was weereens ‘n genotvolle en leersame vergadering.

Dames in pienk

Van die dames se klei skeppings.