Sirkel: Sirkel Overberg
Tak: Gansbaai
Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Sameroeper: Ronel de Villiers
Beriggewer: Marianna Mostert
Datum: 4 Februarie 2025
GEBEDSJOERNAAL WERKSKLAS MET DIE KLEUR VAN LIEFDE OMRING SOOS NET GANSBAAI KAN
“Save the Date” – dis die boodskap wat ons vroeg in Januarie ontvang vanaf ons Gasvroue, Kunste en Handvlyt.
Glo my dit was die moeite werd om 4 Februarie 2025 op ons kalenders te reserveer.
Natuurlik is Februarie-maand die maand van liefde. Nou kan jy dink hoe lekker was dit om omring deur die kleur van liefde ‘n Gebedsjoernaal te maak.
Elke lid en gas ontvang toe ‘n klaar “Kit”. Genommer. Elke stap afsonderlik in sakkies verpak en ‘n hele blad met instruksies. Ons word tot herinner dat ons omgewingsvriendelik is en hulle vra dat die plastiek sakkies hergebruik moet word. Alles handgemaak, uitgemeet, aanmekaar gewerk deur “Kunste en Handvlyt-girls” met liefde.
Ronel de Villiers die Sameroeper van Kunste en Handvlyt vertel vir ons dat jou Gebedsjoernaal persoonlik is en somtyds sal jy slegs ‘n woordjie daarin skryf, maar jy sal weet wat dit vir jou beteken. Selfs met die plak van ‘n prentjie of plakkertjie sal jy jou boodskap verstaan. Mag God in 2025 opnuut Sy getrouheid en goedheid aan jou bewys.
Sy verduidelik ook dat jy nie net kreatief gaan wees wanneer jy hierdie joernaal maak nie, maar dat jou klein, fyn spiertjies ook oefening kry. Fokus op jou innerlike tyd saam met God. Jy leer van groepeer, van kleur wat oorvloei van een bladsy na die oorkantste bladsy. Jy gaan trots en tevrede glimlag. Jy gaan vervuld deur jou Gebedsjoernaal blaai. Geniet dit.
Sy verduidelik ook stap vir stap hoe die “kit” uiteengesit is en hoe jy te werk moet gaan. Ons plak en geniet, lag, kuier en “show” ons boekies af.
Gebedsjoernaal “KIT”
Die dames hard aan die “spoeg en plak”
Een van ons Gaste, Trudie Groenewald ook hard aan die werk
Voorbeeld van die binneblad van ‘n Gebedsjoernaal
En so vorder die bladsye
Van die EIND PRODUKTE
KUNSTE EN HANDVLYT SE GASVROUE VAN LINKS NA REGS: Ronel de Villiers, Michelle Fourie, Corrie Botha, Estelle Heyl, Marmara de Klerk, Lorianne Geldenhuys, Annamarie de Wet en inlasfoto’s Links: Sandra Badenhorst; Regs: Rita Lourens
So tussen deur die “spoeg en plak” het ons nog heerlike vermaak ook gehad. ‘n Kort, humoristiese, tong in die kies, vertoninkie met die titel: “COFFEE OR TEA”? Die kelnerin vra die vraag, “COFFEE OR TEA”? En raai wat? Sy bring daai teesakkies tevoorskyn uit ‘n plek wat die “customers” en ons kykers verslae was oor Die twee meisies wat gaan tee drink het, het skoon weggehardloop en ons het ons mae vasgehou van die lag vir die uitdrukking op daai twee “customers” se gesigte.
Welcome to SINorita’s. COFFEE or TEA?
Die middag het heerlik verloop. Ronel de Villiers stel ook ‘n paar kinderboeke aan ons voor. Boeke van Riana Scheepers was Spinnekop se 7 Bene en Lisa Liefbesie se 7 verlore kolle. Daar was ook boekies vir kinders oor hoe om hul emosies te hanteer: Ek voel jaloers; Ek voel eensaam; Ek voel kwaad; Ek voel geliefd; Ek is op my senuwees. Baie leersaam.
Die Hannes Lüdick Trofee word ook oorhandig aan Sharon Bales. Die doel van hierdie trofee is om as aanmoedinging vir lede tot positiewe bydraes en daardeur groei en deelname in VLV Gansbaai te bevorder. Lede wat baie doen om VLV Gansbaai se beeld positief uit te leef. Sharon is een van ons lede wie baie inisiatief aan die dag lê en ‘n groot deernis het vir mense. Sy het leiding geneem om ‘n Tee-tuin by een van ons Ouetehuise se Basaars namens ons VLV Gansbaai Tak te beman en te befonds. Elke sent wat gemaak is, is aan die Ouetehuis geskenk. Dit was regtig ‘n onbaatsugtige taak. Daardeur het sy net weereens bewys dat VLV Vroue omgee harte het.
Links: Marianna Mostert (Voorsitter) oorhandig die Hannes Lüdick Trofee aan Sharon Bales
Die middag sluit af met ‘n heerlike kuier om die KUIERTAFEL VAN LIEFDE.
KUIERTAFEL VAN LIEFDE
Leave A Comment