Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Potpourri
Beriggewer: Hannetjie Cordier
Datum: 01 Februarie 2025
‘n Swartpot aan die einde van Voëlvlei se reënboog
Die dames van die Voëlvlei-tak het op 21 Januarie die jaar op ‘n hoë noot afgeskop met ‘n potpourri-vergadering waarin elke bestuurslid ‘n bydrae oor ‘n kleur van die reënboog gelewer het. Die taklede is vooraf gevra om elkeen hul gunsteling kleur te dra.
Sandra Nolte (Leefstyl) het die dames meer vertel oor rooi – ‘n energieke, intense kleur wat ‘n mens selfversekerd en ambisieus laat voel. Sy het meer vertel oor verskillende soorte tamaties en die gebruike daarvan – van onder andere Roma-tamaties wat vir preservering gebruik word tot die Israeli-tamatie wat geskik is vir slaai, en die rooi kersietamatie wat soeter is hoe donkerder hy is. Sy het ook ‘n paar wenke gegee:
- As tamatie-en-uiesmoor vir braaivleis of ander geregte gemaak word, voeg ʼn bietjie melk by en roer goed. Dit voorkom sooibrand!
- ʼn Knippie kerriepoeier by tamatiesop verbeter die smaak.
Elize Lock (Landbou en Tuinbou) het op haar beurt meer vertel oor soetrissies, waarvan sommige oranje is. Sy het vertel dat soetrissies ‘n lang groeiseisoen van 60 tot 90 dae het en dat dit dus beter is om plantjies te koop in plaas van om saad te saai. Soetrissies verkies vol son en moet 20 – 50 cm van mekaar geplant word. ‘n Onryp soetrissie is groen aan die plant en verander dan na geel, oranje of rooi hoe langer hul aan die plant gelos word. Dit is dan ook die rede waarom geel, oranje en rooi soetrissies soveel duurder is as die groenes. Die groen soetrissie se smaakprofiel is meer bitter, geel en oranje is soetter en die rooies is die soetste. Soetrissies wat van vroulike blomme ontwikkel, het meer saadjies in en is soeter as soetrissies wat van manlike blomme ontwikkel.
Die boek Lewe in Volkleur, deur Lynette Beer, was Ronel Laubscher (Opvoeding en Kultuur) se onderwerp. In die boek verdeel Lynette persoonlikheidstipes in gewilde geel, rasende rooi, besliste blou en geruste groen. Ronel het met ‘n grappige vertelling oor haar (‘n besliste blou) en haar tienerdogter (‘n gewilde geel) duidelik gemaak hoe belangrik dit is dat ons almal die mense om ons se persoonlikheidtipes moet ken en verstaan.
Carina Holzhausen (Gesondheid) het die lede meer vertel oor die rustige en kalmerende effek van groen. Sy het inligting gegee oor die belangrikheid van groen groente in ‘n dieet en sy het gewys hoe sy ‘n pragtige slaai net met groen groentes voorsit.
Die nuwe voorsitster, Andriesha Radyn, het inligting uit HAT gegee oor waarna die term blou kan verwys – ‘n blou Maandag, blou bloed, eenkeer in ‘n blou maan, die bloupas gee. Sy het ook meer oor die Blou Trein vertel (en die kostes wat R36 000 tot R46 000 per rit beloop).
Daarna het Elmarie Neethling (Openbare Sake) die dames meer vertel oor indigo – die eerste kleur wat gebruik is om denim te kleur en wat sy naam van ‘n plant kry. Daar is so vroeg as 4000 vC in Peru al na indigo verwys. ‘n Paar interessante feite oor indigo: Die Cryola-maatskappy het die indigo inkleurkryt eers in 1999 bekend gestel, posmanne se uniforms was oorspronklik indigo blou omdat die kleur nie gevloei het as dit nat geword het nie, en in die Fillipynse eilande word indigo-poeier met asyn gemeng en gebruik om pasiënte met pampoentjies te behandel. Buiten vir bloubessies, kom blou selde in die natuur voor. Bloubessies bevat meer anti-oksidante as aarbeie, bosbessies en brame. Dit reinig ‘n mens se bloedstroom van vrye radikale en bied beskerming teen sonstrale. Die voedingstowwe in bloubessies dra ook by tot die voorkoming van siektes soos kanker, Alzheimers en hartsiektes, dit beveg inflammasie en bekamp artritis en velprobleme.
Laastens het Lousia Smit (Kunste en Handvlyt) oor haar gunstelingkleur – pers – gesels. Sy het veral op laventel gekonsentreer. Daar is meer as 30 verskillende spesies in die wêreld, hoewel nie al die soorte oral voorkom nie. Laventel help om stres te verminder en om ‘n mens te kalmeer. ‘n Bietjie olie op jou kussing laat jou heerlik slaap. Laventelblomme het ook antibakteriese, antibiotiese, antivirale en antiseptiese eienskappe, en kan as insekafweermiddel gebruik word. Om insekte te verdryf, kan jy gedroogde laventelblare krummel en in bokse met dokumente plaas, of jy kan gedroogde blomme en blare agter die boeke in jou boekrak plaas. Laventel word min in kos gebruik, maar dit word wel in Marokkaanse en Franse speserymengsels gebruik. ‘n Bietjie laventel kan in brosbrood gebruik word, en dit pas ook goed by soet geregte soos roomys.
Wat ‘n heerlike potpourri-vergadering propvol inligting, lekker gesels en heerlike koffie en eetgoed! Ons sien uit na die jaar wat voorlê.
vlnr Ronel Laubcher (Opvoeding en Kultuur, Elmarie Neething (Openbare Sake en Andrieshia Radyn (Voorsitter)
Gerda van der Westhuizen (Besoeker vanaf Sedgefield, wat niemand laat raai het wat haar gunstelingkleur is nie)
Leave A Comment