Sirkel: Paarl

Tak:Wellington

Tema: Leefstyl en meer

Beriggewer: Juanita Loubser

Datum van gebeurlikheid: 30 Januarie 2025

Strandtema vir Wellington

Ons almal hou van kleur en met ons eerste vergadering vir 2025 besluit ons op ‘n strandtema. Helder strandhanddoeke, strandsambrele en grafies en emmers is vandag deel van ons Leefstyl-tema. So goedkoop en kleurvol. Ons voel sommer in ‘n somer, son en see luim. Lede trek ook aan volgens die tema met hoed en sonbril.

 

As jy al ooit gewonder het wat ‘n VLV-vrou op die punt van haar stoel laat sit, moes jy vandag in hierdie saal gewees het. Eduanne Niemand (082 380 1987), bekende slangvanger/slangman soos almal van hom praat was aan die woord. Hy het ook vir Lucy en Bok saamgebring wat tog te gretig aan ons lede se nekke wou hang. (sien foto).

Beppie Altintopi, Patricia Petersen, Eduanne Niemand en Susan Laubcher met hul maatjies.

Eduanne is alom bekend in die Boland vir sy blitsige optrede waar slange jou habitat inseil. Hy sal altyd probeer omdie slang nie seer te maak of dood te maak nie. Met ’n wettige permit van natuurbewaring mag hy slange vervoer, speeksselmonsters neem vir ontleding by US, slange ten toon stel by optredes en ook data bymekaarmaak vir navorsing. Merkwaardig wat alles gedoen kan word met ‘n reptile wat jou leed kan aandoen in jou woning. Volg gerus sy Facebook-blad: Boland Snake Removals 24/7. Wyd en syd oor die heelal volg die blad en kontak Eduanne vir raad en advies.

Lede kry warm, maar is vasgvang in die slangstories.

 

Hy lig 3 slange wat in die Boland voorkom uit.

  1. Boomslang byt vele maal en dit bloei. Later bloei jou tandvleise, alles begin bloei in jou liggaam van sy gif. Jy het tot 4 ure om te oorleef en hulp te kry..
  2. Pofadder se gif is wel gevaarlik, maar jy het tyd om nog by hospitaal te kom. As teengif word die kaapse kobrase gif gebruik vir hierdie slangbyt. Serum word gemaak deur die kobra tem elk vir sy gif, meng dit met perdebloed en geelbloedliggaampies.
  3. Kobra – ja die kaapse kobra is die dodelikste en jou tyd vir oorlewing is tot 30 minute na die byt. Probeer altyd die byt afbind, maar ten minste 30 cm verder van die byt. Maak dat jy by die naaste hospitaal kom, waar hul ventilator op jou sal sit, want dié gif tas jou asemhaling aan. Baie pasiënte het longprobleme na die tyd ook.

 

As jy op ‘n slang in jou woning afkom, moenie hom uit jou sig verloor nie. Hy sal altyd seil waar dit donkerder en koeler is. Roep iemand om dienste te skakel, maar moenie hom verloor nie. Moenie uithardloop nie, klim op die tafel of kas as moet, maar kyk vir die seilende reptiel heeltyd… neem sommer foto’s ook, want ons loop mos met ons selfone oral rond. Ontbied iemand om die slang te verwyder en weer vriendelik los te laat.

 

Let wel: Slange is territoriaal en hou vir jare in dieselfde gebied. Sit groot bakke water om jou erf/werf se grensdrade en hou hul sodoende buite jou woning. Hulle kom soek water in jou spuitfontein, visdam, swembad en eindig later in jou huis waar ‘n deur dalk oopstaan of ‘n venster in ‘n hoek is ook lekker plek om by in te seil teen die muur.

Annemari en Brenda vertel van hul produkte

Brenda se verfrissende cordial

Meer van Brenda se produkte

Van Slange na Preservering. Brende de Jager is ‘n gebore Visvoet Weskusser. Uit ‘n garage begin bottellering van tuisgemaakte ingelegde produkte begin, later by Fairview begin met haar fabriek en nou het sy by Spice Route haar eie “deli/ cocktail bar/ comfort zone”. Brende vertel van hoe sy haar pad na hierdie roeping gevind het. Al die foute wat sy gemaak het in preservering en ook hoe haar familie haar bygestaan het om ‘n sukses te maak toe sy kontrakte by Woolworths, Boschendal en Checkers begin kry vir haar produkte. Die supermarket kan maar lekker vol strooi wees en elkeen eis sy pond vleis om die beste op die rak te vertoon. Deesdae maak sy heerlike “cordials” vir die cocktail bar”, ingelegde produkte en tot ‘n “butter chicken” sous in ‘n fles. So gerieflik. Probeer ook gerus die spesryereeks as jy inloer by Brenda’s Handcrafted Produce (082 721 1841). Ons as tak gaan gewis ‘n besoek daar aflê eersdaags om alles te gaan proe.

Die kleur van groen en geroosterde bone

Hugo Engelbrecht rooster sommer vir ons hoe ons tuis kan doen

Hugo se Malawiese koffie wat hy versprei

Ons is nou veilig en ons het van geure geleer vir kook, maar o wee ‘n lekker koffie kry my onder. Hugo Engelbrecht kom vertel ons toe van Malawiese koffie. Hy rooster groen koffiebone en dit word gemaal. Hy vertel van die suiker, bitterheid en suur in koffiebone. Wat temperatuur aan dit doen en hoe elke barista besluit tot watter graad en hitte hy/sy die koffie wil rooster.

 

Na soveel nuwe info ingeneem moes ons weglê aan somer poedings, vla en roomys – dit is mos afkoeltyd en ons mos in die vakansie en seeluim.

Dis warm en ons is op die strand